Te midde van kouefronte wat die laaste paar weke oor Touwsrivier en die res van die Breederiviervallei skuif, kring die poel van honger, werklose mense op dié dorp en omstreke aan die vooraand van die winter reeds ál wyer uit.
In Touwsrivier, ongeveer ’n anderhalfuur van Kaapstad af, op die rand van die Boland en die Karoo, word oplossings gesoek om voedselsekerheid daar te verbeter.
Die meeste van dorp se 8 130 inwoners leef onder die bestaansminimum. Al hoe meer mense is afhanklik van staatstoelaes (veral kindertoelaes) en kosskenkings.
“Honger en hopeloosheid spoel al hoe meer oor ons dorp,” sê Rashaad Baker van Compassionate Hearts. By hierdie organisasie sonder winsbejag, wat ’n sopkombuis uit sy huiswinkel bedryf, word daagliks tot 1 000 mense gevoed.
Hier staan honger inwoners van die dorp – veral werklose mans – reeds van vroegdag af in die ry vir kos. Waar moontlik, neem mense ook kos huis toe. “Ons uitgangspunt is om te seker te maak niemand stap hier met leë hande weg nie,” sê Baker.
Compassionate Hearts is sedert die begin van die Covid-19-pandemie betrokke by koshulp en hulpverlening in die dorp. Die organisasie kry onder meer steun van ander organisasies soos Gift of the Givers. “Ons het aanvanklik kos aan net ’n paar kinders verskaf. Die grootmense het gevolg. Sedertdien het die rye nog nooit opgedroog nie.”
Probleme met armoede en mense wat honger ly of ongesonde kos eet, het sedert die begin van die pandemie vererger, sê hy. Terselfdertyd neem leefstylverwante siektes in die dorp toe, waaronder suikersiekte, hoë bloeddruk en vetsug.
“Ons mense kry swaar en ly honger,” sê Baker.
Hy stel dit onomwonde: “Die dorp beleef ’n krisis.”
Kinders aan die ontvangkant
Touwsrivier ondervind volgens navorsing van die ergste vlakke van groeibelemmering in kinders jonger as vyf jaar – die ergste in die land.
Om honger te wees, is iets waaroor mense nie aldag praat nie, maar gewis iets wat meer aandag moet geniet, glo Johanna Solomon, hoof van die voorskoolse Emmanual Educare-sentrum.
“Die dorp is in ’n diep sloot,” beken sy. “Mense verval in skuld by moneylenders en food brokers, en party ruil kos vir drank. Dis die kinders wat uiteindelik die meeste hieronder ly.”
Solomons en haar span onderrig 60 voorskoolse kinders by hierdie sentrum. Hulle ontvang ’n staatsubsidie vir net 32 van die leerders. Sy betaal dikwels vir die sentrum se kosverwante uitgawes uit haar eie sak.
Kinders wat ondervoed is of ongesonde kos kry, groei volgens haar stadiger en raak maklik agter in die klas. Talle kinders in haar sorg ly aan fetale-alkohol-sindroom, ondervind ernstige leerprobleme en leer stadiger om te praat.
Feitesending onderweg
Sowat 60 besluitnemers, akademici, regeringslui asook verteenwoordigers van organisasies wat by voedselsekerheid betrokke is, het onlangs ’n feitesending (learning journey) na dié dorp onderneem. – Vervolg op bladsy2.





