Wilna Roux

Die agterbladopsomming van die boek (met sy mooi voorblad) laat jou jeuk om sommer net daar in die boekwinkel te begin lees: “ ’n Pakkende hofdrama wat afspeel in die Boland, op ‘n dorp waar geen geheim vir ewig weggesteek kan word nie”.

Dié boek, die eerste uit die pen van Wilna Roux, ‘n prokureur in Worcester, is die afgelope week met ope arms deur Afrikaanse lesers begroet.

Dit is in hierdie einste dorp waar die verhaal van Julia Blomerus afspeel. As kamerprokureur in Izak Marais se regspraktyk moet Blomerus onverwags ‘n saak hanteer toe hy die oggend ineenstort – al het sy haarself beloof sy sit nooit weer haar voete in ‘n landdroshof nie. Dat haar kliënt onskuldig is, is sy nie heeltemal oortuig van nie.

Roux se reis met haar eerste boek was ‘n heerlike een.

Sy lag ongelowig oor hoe vinnig die kaartjies vir die boek se bekendstelling opgeraap is – só vinnig dat ‘n tweede aand gereël is.

Hierdie boek het nie uit die bloute gekom nie. Sy vertel dat sy sedert skool- en universiteitsdae al dagboek hou.

“ ’n Groot deel van ‘n prokureur se werk is om namens ander mense te lees en te skryf, maar dit is nie kreatiewe werk nie,” vertel Roux.

Sy het tussen kinders grootmaak deur begin skryf en in 2013 ‘n manuskrip voltooi. Die terugvoering daarop was nie so goed as wat sy gehoop het nie. Dit is eers toe haar jongste klaar was met skool dat sy net op haar skryfwerk kon konsentreer.

“Ek het ‘n skryfkursus in Stilbaai bygewoon en daarna besluit om heeltemal oor te begin. Hierdie keer ‘n ander moord,” sê sy en lag.

As prokureur het sy insig in hofverrigtinge en die tragiese stories wat dikwels tussen die koue mure vertel word.

“Ek was nog altyd lief vir boedelbereddering en al die interessanthede in die erfreg.”

Sy kry dit reg om die hofverrigtinge, dikwels duister vir die leek, in ‘n senutergende storielyn om te skep.

Die Ooggetuie was Netwerk24 se tweede beste verkoper vir Mei – Roux vind haar op hierdie lysie skielik tussen gevestigde skrywers soos Rudie van Rensburg, Kristel Loots, Bettina Wyngaard en Antjie Krog.

Haar uitgewer het die potensiaal raakgesien en Die Ooggetuie is die eerste van ‘n reeks wat sal volg.

Vroegoggende voor werk, gewapen met ‘n koppie koffie, skuif Roux haar skootrekenaar nader. Dit is hier, op haar bed, waar sy lewe moet gee aan Julia Blomerus se volgende avontuur.

Wilna Roux, 'n plaaslike prokureur, het hierdie hofdrama geskryf.
“Die Ooggetuie” is ‘n hofdrama deur WIlna Roux, ‘n prokureur van Worcester.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article