Historiese kanon op Erfenisdag in Worcester afgevuur

Bernard Strydom vuur die kanon in Worcester af.

Historiese kanon op Erfenisdag in Worcester afgevuur


WORCESTER: ‘n Geskiedkundige ­gebeurtenis het hom op Erfenisdag in Worcester afgespeel toe ‘n kanon in die dorp ter viering van die destydse seinkanon afgevuur is. Die seinkanon het destyds aangekondig ‘n skip het die Kaapse hawe binnegevaar, waar mense handelsware kon koop of verkoop.

Die kanon wat in Worcester afgevuur is, was deel van ‘n ketting van 32 kanonne oor Suid-Afrika heen wat vyf minute ná mekaar afgevuur is. Wat die gebeurtenis verder interessant gemaak het, was dat die middagkanon, wat daagliks klokslag om 12:00 op Seinheuwel in Kaapstad afgaan, ook by die gebeurtenis betrek is.

Bernard Strydom, ‘n lid van die Suid-Afri­kaanse Kanonniersvereniging en aan wie die kanon tans behoort, sê die Kanonniersvereniging het hom vroeër gevra of hy as deel van die kanonketting die kanon in Worcester op Erfenisdag kan afvuur.

Hy sê die kanon in Worcester is klokslag om 12:20 op die terrein van HTS Drostdy afgevuur. Volgens hom is streng veilig- heidsmaatreëls toegepas.

Strydom is ook die eienaar van ­Strydom’s Armature Winders in Worcester.

LEES OOK: Middagkanon

Die skoot is naby kaptein Charles Trappes se graf, langs Trappespark-pawiljoen, afgevuur. Trappes was die eerste landdros wat die Drostdy-gebou bewoon het. Bouwerk aan dié gebou het in 1823 begin en dit staan vandag steeds as ‘n belangrike deel van Worcester se geskiedenis op die skoolterrein.

Volgens Strydom het sy oorlede pa, Ben, die sespond-kaliber-Armstrong-ysterkanon in 2005 vir R15 000 van Ross Demolishing in Kaapstad gekoop. Sy pa was die eienaar van Western Guns, ‘n geregistreerde vuurwapen-onderneming in Worcester. Ross Demolishing is ‘n groot slopings-, grondverskuiwings- en bergingsmaatskappy in Suid-Afrika.

Hy sê die 700-kg-kanon, wat in 1750 in Engeland vervaardig is, is ontdek toe die destydse kragsentrale in die Kaapse middestad platgestoot is om plek te maak vir die Kaapstadse Internasionale Konferensiesentrum. Hy sê tydens die konstruksiefase van Kiks is tot 10 m diep in die grond gegrawe. Dis toe dat op twee kanonne en ‘n skeepswrak afgekom is.

Bernard sê ná sy pa se afsterwe in ­Januarie 2024 het hy die kanon oorgeneem en dit geregistreer.

Volgens hom is die plan om die afvuur van die kanonne op Erfenisdag ‘n jaarlikse instelling te maak.

Bernard Strydom by die kanon wat in Worcester afgevuur is.
NovaNews WhatsApp channel QR code

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article