TOUWSRIVIER – Shattered but not broken. Saterdagmiddag was dít die tema by die high tea-byeenkoms wat deur die kerksusters van die Heavenly Voices of Hope-kerk aangebied is om Vrouemaand mee af te sluit.
Ongeveer 50 vroue van verskillende gemeentes het in hul beste uitrustings opgedaag. Dit was ’n eksklusiewe geleentheid waar net vrouestemme gehoor is. Die stemming was opgewek en vrouestemme het geborrel van motivering en met lofliedere. Tog was daar ook trooswoorde vir die weduwees wat daagliks op hul knieë leef en vir vroue wat ’n opdraandestryd teen euwels en onderdrukking stry.
Twee raakvattervroue van die gemeente, Sally Karelse en Sasha Nicholas, het die vroue verwelkom en hulle aangemoedig om vrouwees met die hulp van die Almagtige positief uit te leef om sodoende die gemeenskap ’n beter plek te maak. Die 26-jarige Caline Nicholas het die lied “Alabaster Box” aan die vroue opgedra.
Die bekende plaaslike motiveringspreker en kerksuster Beulah Lottering was die gasspreker. Sy het uit 1 Konings 17 voorgelees. Dit handel oor die profeet Elia by die spruit Krit en in Sarfat. Sy het veral die weduwees en gebroke vroue gemotiveer.
“Soms slaan die lewenstorms ons neer, maar ons moet weer opstaan sodat dit nie ons siel flenters laat nie,” het Lottering gesê.
Sy het ook haar persoonlike ervaring as ’n weduwee gedeel.
“Jesus is ’n eggenoot vir die weduwee. Hy verlaat jou nooit nie,” het sy die vroue bemoedig.
Voordat die vroue lekkergoed soos koek en tert en tee geniet het, het hulle kerse in die vorm van ’n hart aangesteek as simbool dat hul aardse lig steeds skyn. In die middel van die brandende hartvormige kersies het ’n groot wit kers die helderste vlam gemaak om die gemeenskap se gestorwe vroue te gedenk – vroue wat hul aardse kruis met dapperheid gedra het.
Daarna het almal die lied “Women of Strength” gesing.





