Rugbyliefhebbers is ontsteld oor die Westelike Provinsie-rugbyunie se aankondiging oor ‘n nuwe naam. Foto: WP Rugby

Kapenaars moes reeds afstand doen van hul geliefde Nuweland-rugbystadion. Nou is die spyker ook in die doodskis van die geliefde Wee-Pee – oftewel Westelike Provinsie-rugbyspan – geslaan. Dié span sal voorts bekendstaan as Stormers XXIII, ‘n besluit wat Kaapse rugbyliefhebbers behoorlik warm onder die kraag het.

Die aankondiging is onlangs deur die Westelike Provinsie Rugbyunie gemaak en het onmiddellik hewige reaksie van ondersteuners ontlok wat die naam as deel van die provinsie se rugbyerfenis beskou.

Die afrigter, John Dobson, het die besluit verdedig en gesê dit is geneem om die span se handelsmerk te versterk en om verwarring tussen die Stormers-span wat in die Verenigde Rugbykampioenskap (URC) meeding en die span wat in Curriebeker-kompetisie speel, uit te skakel.

“Ons moet met die tye saambeweeg. Die realiteit is dat rugby ‘n besigheid geword het en ons moet ons handelsmerk versterk om volhoubaar te bly. Die Stormers-naam het internasionale erkenning en dit maak sin om dit reg deur ons strukture te gebruik,” het Dobson gesê.

Hy het bygevoeg die naamsverande­ring sal help om die span se bemarkings- waarde te verhoog en jonger ondersteu­ners te lok.

Skerp kritiek vanuit verskeie oorde

Die voormalige WP- en Springbok-los- voorspeler Rob Louw het behoorlik sy mond hieroor uitgespoel.

“Westelike Provinsie-rugby is nie net ‘n naam nie, dit is ‘n identiteit wat oor meer as 140 jaar opgebou is. Om dit weg te gooi vir handelsmerke en bemarkingsdoelwitte is ‘n skande. Wat volgende? Gaan ons die blou-en-wit trui ook verloor?” het Louw gevra.

Hy het gesê die besluit wys ‘n gebrek aan respek vir die geskiedenis van die provinsie se rugby en die duisende spelers wat die trui met trots gedra het.

Louw het bygevoeg dat die naam Stormers in die eerste plek heeltemal onvanpas is vir die span van die Westelike Provinsie en dit moes nooit gebeur het nie.

“Al dra ‘n aap ‘n goue ring bly hy steeds ‘n lelike ding”, sê Fritz Joubert, afgetrede joernalis.

“Dis die gesegde wat by my opgekom het toe ek lees die WP se Curriebekerspan word nou Stormers XXIII. Jy kan nie ‘n stuk van ons rugbygeskiedenis eenkant toe smyt en dink dat jy met ‘n nuwe naam ‘n beter of meer suksesvolle toekoms skep nie.

“Ek is seker uit die oude doos, maar ‘n naam moet vir mens iets sê van jou komvandaan. Dit is wat die Westelike Provinsie altyd was – ‘n streek in die weste wat geassosieer is met die see, berge, vrugte, wyn en goeie rugby. Stormers? Wat sê dit? Net nog ‘n nulliteit.

“Boonop is die gehalte van die rugby wat die eintlike Stormers speel – dis nou die span in die ‘Eerste Liga’ – deesdae van so ‘n aard dat dit niemand inspireer nie. Daarom is daar by my geen entoe-

siasme vir nog ‘n soort Stormers in watter hoedanigheid ook al nie.”

Lesers spoel hul mond uit

Novanews-lesers was ook nie skaam om hulle menings te lug nie.

“Dis ‘n tragedie. My oupa, my pa en ek het byna grootgeword op Nuweland en vir WP geskree. Wat moet ek nou vir my seun sê? Dat ons tradisie niks meer werd is nie?” vra Johan le Roux.

‘n Leser van die Paarl het gesê: “Hulle kan die naam verander soveel as wat hulle wil, maar vir my sal dit altyd Wes- telike Provinsie bly. Jy kan nie geskiedenis net so uitvee nie.”

Marius Weyers sê: “Westelike Provinsie Rugby is so ryk aan tradisie en kultuur dat dit dom en ‘n absolute sonde sal wees om na Stomers XXIII oor te skakel. WP-kleure in enige vorm van sport in die Kaapse-streek is die grootste prestasie!!!”

‘n Stellenbosser het sy frustrasie uitgespreek: “Eerste Nuweland, nou die naam. Wat gaan hulle volgende van ons afvat? Rugby was altyd oor tradisie en gemeenskap, maar nou gaan dit net oor geld.”

Buhlebezulu Bomela sê eenvoudig net: “Nuweland-stadion is weg, nou WP ook.”

Cobus du Plessis sê eenvoudig tong in die kies: “Dis regtig nog nie tyd vir ‘n April-grappie nie!”

Randall Myburgh sê: “Dit gaan nie werk nie! Moenie die tradisie wegvat wat al die jare staan as Westelike Provinsie, of as Province nie.”

Niekie Boonzaaier sê: “Pateties! Eers bly Nuweland in die slag en nou naamsverandering. Wat is volgende?”

Die Westelike Provinsie Rugbyunie sê egter die besluit is ten spyte van teenstand finaal en die span sal van die 2026-seisoen af as Stormers XXIII bekendstaan. – Lise Beyers

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article