Weens die onlangse oorstromings moes die Brandvlei-hengelklub sy kompetisies kanselleer omdat die hengel-oewers onbegaanbaar was.
Die afgelope Saterdag kon hulle egter weer in die Artoisdam lyn natmaak en het in ’n lastige wind steeds mooi karpe gevang. Charl Ferreira het ’n welkome terugkeer tot die sport gemaak en gewys dat hy geen van sy tegniek en ondervinding afgeskeep het nie. Sy 17 visse het hom nie net die B-sone laat wen nie, maar hy is ook as die senior en algehele wenner gekroon.
Pierre Snyman was tweede in die B-sone en hy het die swaarste sak vis (10,08 kg) ingeweeg. Danie Wilmot het die A-sone gewen en was ook die beste onder die veterane op die dag. Johan Stander was tweede en het die swaarste karp (1,320 kg) ingeweeg. Megan van Graan het die vroueafdeling gewen terwyl Tiaan Goetzee as die junior wenner gekroon is.





