Kykers van die gewilde Afrikaanse TV-reeks Een keer om die son het in Dinsdagaand (10 Februarie) se episode die bekkige Elijah leer ken – ‘n jong man wat net soos Leandri dialise moet ondergaan.
Die rol word vertolk deur Heinrich Wentzel, ‘n plaaskind én slimkop van Bonnievale in die Breedevallei, wat aanvanklik ‘n mediese loopbaan wou nastreef. Toe die toneelgogga byt, het Wentzel egter besef dít is waar hy wil wees – op die kassie of op die planke. Hy was die afgelope jaar in twee van kykNET se dramareekse te sien – eers in Niggies as die jong Hans Theron en toe in Die Nuusmakers as Daniël Joubert. Nou is hy deel van die tweede omwenteling van die Van Wyk-familie op kykNET.
Wentzel het aan die Hoërskool Bonnievale skoolgegaan waar drama nie as ‘n vak aangebied is nie. Hy het wel altyd aan dié skool se toneelstukke deelgeneem, wat vir die dorp opgevoer is. “Hoewel ek dit baie geniet het, het ek nooit gedink dit sou realisties wees om ‘n loopbaan daarvan te maak nie,” voeg hy nederig by.
Goeie flieks gedurende sy hoërskooljare en produksies op die KKNK se planke het hom laat besef hy wil rolprente en teaterstukke vervaardig en boonop ‘n verskeidenheid karakters aanpak – “uiteenlopende karakters wat óf heeltemal van my werklikheid verwyder is óf waarby ek aanklank kan vind,” brei hy passievol uit.
Wentzel het uiteindelik ‘n graad in drama -en teaterstudies aan die Universiteit Stellenbosch nagestreef, wat hy in 2025 behaal het.
Dié Breederiviervalleier beskou Bonnievale steeds as sy hartsplek en hy sal nie sommer van sy wortels vergeet nie. Dit was vir hom ‘n massiewe voorreg om op Bonnievale, wat hy as ‘n klein en hegte gemeenskap beskryf, groot te word. Hy beskou sy kinderjare op die plaas as ‘n droom. “Ek kon as kind op die plaas rondhol en elke dag iets nuuts ontdek om te bestudeer of op te klouter. Ek kon myself vir ure lank besig hou. Dit klink dalk simpel, maar ek dink regtig dis die mense wat Bonnievale laat uitstaan. Dis ‘n gemeenskap wat opwinding en mooi in die klein goedjies kan raaksien en wat enige projek saam kan aanpak.”
Vir hierdie jong akteur is dit nog moeilik om te kies tussen teater en kamerawerk. Hy is versot op albei. “Hoewel teater gerepeteer word om tempo-, klem- en energie-spesifiek te wees, weet ‘n mens nooit presies hoe die vertoning gaan verloop nie. Die energie wat dit vat om in ‘n teaterstuk op te tree, bring soveel adrenalien en lewe na die ervaring.” Met rolprente en televisie voel dit vir hom weer asof hy in die oomblik ander soort risiko’s kan waag, met die regisseur wat jou toneel vir toneel lei. “Die intimiteit om voor die kamera te werk, bring ‘n ander fokus en opwinding na toneelspel,” voeg hy by.
Talle Suid-Afrikaanse akteurs het deur die jare vir hom as inspirasie gedien, soos Frank Opperman, Rolanda Marais, Nicole Holm (wat een van sy dosente was), Jarrid Geduld en De Klerk Oelofse. Hy sonder Albert Pretorius uit, na wie se werk hy vir ure lank kan kyk. “ ’n Mens glo elke woord wat hy sê; maak nie saak watter karakter hy speel nie – hy maak sulke interessante en brawe keuses in sy spel, sonder dat hy ooit nie 100% teenwoordig is nie.”
Op internasionale vlak bewonder hy graag die werke van Paul Mescal, Woody Harrelson, Ayo Edebiri, Olivia Colman, Harris Dickinson, Frances McDormand en Andrew Scott, om maar net ‘n paar te noem.
Hoewel hy nog nuut in die bedryf is, lyk sy voorbereidingsproses vir elke geleentheid anders. “Ek begin altyd by die volle teks om te sien hoe die karakter optree en om die gevoel te kry van sy verhouding met ander karakters. Van daar af skep ek ‘n agtergrond vir die karakter om te weet hoe hy in verskillende situasies sal reageer,” verduidelik Wentzel oor hoe hy vir die rol van Elijah voorberei het. Hy fokus ook op wat die karakter se doelwit in elke toneel is – iets wat Cintaine Schutte en Carel Nel hom geleer het. Hy verklap hoe die regisseur van Een keer om die son, Ivan Botha,’n baie spesifieke visie vir die reeks en sy karakter gehad het en hom toneel vir toneel gelei het.
Om werklikheid met humor te balanseer
In Een keer om die son het Elijah akute nierversaking. “Ek moes voorberei om kop te hou met sy gesondheidstoestand en hoe hy daarop reageer. Die karakter het ‘n realistiese en effens siniese uitkyk op die lewe, maar probeer altyd ander laat lag. Hy steek sy swaarkry met humor weg, wat ook vir my belangrik was om in gedagte te hou om sy vreesaanjaende werklikheid met humor te balanseer,” brei hy verder oor sy karakter uit.
As vryskut kan Wentzel nog nie met sekerheid sê wat die jaar nog alles vir hom inhou nie, maar stilsit is nie ‘n opsie nie. Hy toer onder meer saam met twee studenteproduksies en beskryf die KKNK as een van die jaar se hoogtepunte waar hy met die kinderproduksie Kaskenades! en die tragikomedie Akrasia op die verhoog sal verskyn. ‘n Kortfliek lê ook vandeesmaand voor. Wentzel het onlangs ook met stemwerk vir die oorklanking van buitelandse reekse begin en sien daarna uit om meer daarvan te doen. Min weet sy skryftalent het boonop reeds op skoolvlak deurgesyfer toe hy verskeie kere erkenning daarvoor ontvang het. Daarom wil hy graag vanjaar daarmee eksperimenteer en kyk of hy wel kan skryf. “Maar ek los dit gewoonlik vir dié wat wel die gawe het,” skerts hy nederig.
‘n Produksie op die kassie waarvan hy graag droom om deel te wees, is The White Lotus. “Dalk sommer weer ‘n seisoen wat teen die mediterreense kus afspeel soos in seisoen twee. Ek sal wat wil gee om in ‘n Yorgos Lanthimos-fliek te speel. My medeakteurs sal ek uitkies sodra ek die teks sien,” voeg hy op navraag by oor wie die regisseur en sy medespelers sou wees. Om in ‘n produksie van Marthinus Basson en Nico Scheepers te speel, is ook ‘n Afrikaanse droom van hom.
En in sy vrye tyd maak hy kos met ‘n verskeidenheid klipharde musiek op sy oorfone totdat vriende hom bel om te gaan stap, see toe te gaan of ‘n fliek by die bioskoop te gaan kyk. “Ek geniet eintlik enige oomblik wat ek saam met lekker mense deurbring – my familie en vriende is wat die lewe lekker maak. En kamp. Ek hou baie van kamp,” vertel hy.
• Een keer om die son wys Dinsdae om 20:00 op kykNET (DStv-kanaal 144). Episodes is ook beskikbaar op DStv Stream en Catch Up.





