Young Hamiltons het verlede Saterdag weer eens vir Ceres-RVK gelooi in sy tweede vriendskaplike stryd vanjaar.
Die span van Witzenberg het ingestaan nadat Langebaan-RVK sy wedstryd teen Hammies gekanselleer het. Hammies het van meet af die pap lekker dik aangemaak – veral omdat dit wou voorkom of Ceres nie werklik vir die stryd opgedaag het nie.
Betram Jacks is eerste met brute krag vir Hammies oor met Luciano Truter wat verdoel. Truter, wat op die dag op linkervleuel diens gedoen het, het dadelik hierna sy veelsydigheid ten toon gestel deur die verdediging te flous en deur ’n gaping te klief om onder die pale af te rond en sy eie drie te verdoel om Hammies met 14-0 te laat voorloop.
Ceres het in dié stadium geen antwoorde vir Hammies se briljantheid gehad nie en moes talle kere agter sy eie doelpale stelling inneem deurdat eers John Williams gevolg deur Bertram Jacks weer eens Truter, Danwill Lukas (kaptein), Elton Setera en Ghanton Setera die drieë ingeryg het, met Truter wat alles verdoel het. Die rustydtelling was 35-0.
Hierna het Hammies die krane in die tweede helfte behoorlik oopgedraai.
Ceres kon slegs teen die einde van die wedstryd met drieë deur sy skrumskakel, wat ’n barshou gespeel het, en sy regtervleuel op Hammies se aanslag antwoord. Slegs een van dié drieë is verdoel, om die eindtelling op 59-12 te staan te bring.
Die tweede spanne het in ’n baie opwindende hoofvoorwedstryd gelykop met 12 elk geëindig. Weer eens het die derde span nie speelkans gekry nie. V Hammies reis Saterdag na Bonnievale om Blue Birds te pak. Busse vertrek om 12:30 vanaf die Esselen-tavern.





