Die tweede ronde van Boland-rugbyunie se klubrugbykompetisies is ná ‘n week lange verposing weer die afgelope Saterdag (7 Junie) in alle erns hervat.
Villagers Montagu (Sesduim) en Rawsonville United (Rawsies) het mekaar in koue, nat eendeweer op die King Edward-sportveld gepak.
Sesduim het eerste bloed geruik toe sy haker, Jovaan Hartnick, ‘n aanval deur die tuisspan met ‘n drie afgerond het. Liam Pekeur (heelagter), se doelskop was tussen die pale deur. Dié verdoelde drie het Sesduim met 7-0 op die voorvoet geplaas.
Kort hierna is Rawsies ‘n gevoelige slag toegedien toe sy regtervleuel, Deniel Cornelius, die veld ná ‘n harde stamp teen die kop moes verlaat. Die skeidsregter, Ruan Machiel, het hom met ‘n bloukaart van die veld gestuur.
Ná hervatting van die spel het die besoekers ‘n drie aangeteken, maar Ambrose Steyn, heelagter, se doelskop het die regoppaal getref. Rawsies was egter ná dié onverdoelde drie weer terug in die wedstryd met die telling wat 7-5 geword het.
Pekeur het hierna met sy eerste suksesvolle strafdoel geslaag, wat die rustydtelling op 10-5 in Sesduim se guns te staan gebring het.
Kort ná die begin van die tweede helfte het Sabelo Dlamini ‘n onverdoelde drie vir die tuisspan gedruk. Dit het Sesduim se voorsprong na 15-5 vergroot.
Rawsies se linkervleuel, Lorenzo Makamello, en Sesduim se kantman, Sabelo Dlamini, is kort ná mekaar met geelkaarte gestraf.
Sesduim was nogtans goed in beheer van die rugbywedstryd nadat Pekeur met sy derde strafdoel geslaag en die telling na 21-5 gevoer het.
Hoewel Rawsies nooit touopgegooi het nie, het die nat toestande albei spanne se hantering erg belemmer en geleenthede op punte laat skipbreuk ly.
Die tuisspan het egter genoeg gedoen om die wedstryd uiteindelik in sy guns te beklink. – Norman Evertson


