Groeiende probleem: waarnatoe met die haweloses in Worcester?

Straatslapers oornag voor ondernemings in Hoogstraat.

Vroegoggend, in koue en nat weer, lê hopies vuil komberse en kartonbokse op die sypaadjie onder ‘n afdak in Hoogstraat. Oud en jonk, mans en vroue, lê styf opgekrul in ‘n poging om die koue en reën te ontwyk.

Haweloses is volgens inwoners en sakelui ‘n toenemende probleem in Worcester.

Dit is egter ‘n ingewikkelde saak waar dit moeilik is om tussen misdadigheid en weerloses wat hulp nodig het, te onderskei. Wanneer hulle verjaag word, skuif hulle net na ‘n ander deel van die dorp.

Ondernemings in die middedorp kla dat hulle daagliks ontlasting voor hul deure moet skoonmaak. Voetgangers sê hulle voel nie veilig nie, omdat van die straat-

slapers aggressief is.

Verskeie inisiatiewe is al begin om die haweloses te ondersteun, met die doel om hulle met hul families te herenig en te rehabiliteer. ‘n Oplossing vir dié saak blyk egter ontwykend.

‘n Groep haweloses het hulle onder die afdakke oorkant die stasie gevestig. Dit bring uitdagings vir die Laerskool Wynland en ‘n nabygeleë ouetehuis.

“Ons probeer al lank ‘n oplossing vir hierdie probleem kry – sonder sukses. Die haweloses het hulself reg langs die draad by ons sportvelde ingerig en ons voel dit is nie veilig vir die kinders nie. Die polisie het onlangs ‘n vuurwapen by een van hulle gekry,” het Rowan Snygans, die adjunkhoof, gesê.

“Die draad word geknip en krane en waterpype word gesteel. Een van die kragbokse se drade is ook afgeknip. Ons het al onder die afdakke opgeruim, maar dit bring ook kostes mee.”

Hy reken daar “woon” sowat 20 mense. Die skool het reeds verskeie gesprekke met die Breedevallei-munisipaliteit, Transnet (aan wie die afdakke behoort) en ander rolspelers gevoer.

Tydens Standard se besoek het komberse voor die ingange van die afdakke gehang. Die afdakke het staaldeure aan die agterkant en bied skuiling teen die elemente. ‘n Groot hoop vullis – van bierbottels tot kospapiere en babadoeke – het teen die skool se heining gelê.

Haweloses het ‘n groot hoop vullis langs die Laerskool Wynland gestort. Die heining in die agtergrond is geknip.

Die heining is geknip.

Dis wanneer haweloses hulself tuismaak op grond wat aan private mense of ander instansies behoort dat die Breedevallei-munisipaliteit se hande geboei is.

“Baie van die gebiede of eiendomme waar haweloses woon – veral in die sakekern – behoort nie aan die munisipaliteit nie. Ons kan nie uitsettings of hervestigings doen as hulle nie op ons grond is nie.

“Ons het na die eienaars van die eiendomme, soos Transnet, uitgereik om dit te oorweeg om ‘n formele uitsettingsproses te begin. Ons het hulle ondersteun om profiele van die besetters op te stel, en ‘n opvolgvergadering sal gehou word om hul vordering te bespreek,” het John Bulani, ‘n munisipale woordvoerder, gesê.

In sommige gevalle waar die haweloses op sypaadjies slaap, blyk dit dat die heining nie op die grens is nie en wat soos ‘n sypaadjie lyk, wel private grond is.

Die Nuwe Begin-skuiling in die dorp se kapasiteit is beperk.

Die munisipaliteit, deur sy behuisings- en menslikenedersettingsdepartement, is op soek na ‘n vennoot – verkieslik ‘n gevestigde nie-winsgewende of nie-regeringsorganisasie wat met hawelose mense werk. Die organisasie sal oornag-geriewe en ‘n plek waar individue geassesseer kan word, verskaf sodat opsies soos hervestiging, repatriasie of verwysing na ‘n geskikte instansie gedoen kan word.

Drie jaar gelede het ‘n groep organisasies juis só ‘n projek van die grond af probeer kry, maar dit het verlede jaar op ‘n dooiepunt geëindig. Die grootste uitdaging was om ‘n geskikte stuk grond in die middedorp te kry.

Een van die betrokkenes, ds. Andri Eloff van MorethanMeeras, sê meer as sestig mense het aan die skuilingprojek gewerk. Hulle het ook met Transnet geskakel om deel van hul grond vir ‘n skuiling te gebruik.

Die groep het meer as 133 onderhoude met die haweloses gevoer om te bepaal hoe hulle die probleem kan oplos.

“Hulle is juis in die middedorp omdat hulle veiliger voel daar. Hulle is uitgelewer aan misdadigers en bendes wat hulle uitbuit.

“Van die mense met wie ons gewerk het, was al vir die tweede geslag op straat – hulle ken niks anders nie. Van hulle is op straat omdat verhoudinge by die huis skeefgeloop het,” het ds. Eloff gesê.

“Van hierdie mense is waarlik haweloos en nie by misdaad betrokke nie. Hulle is weerloos en skugter as hulle kos by die koskombuise kom haal.

“Hulle is net op oorlewing ingestel.”

Die groep se doelwit was ‘n oornagfasiliteit en ‘n dagsentrum wat basiese dienste aanbied en toegang tot rehabilitasiedienste gee.

“Die uiteindelike doel is om die mense te rehabiliteer, met hul families te herenig of in die samelewing te integreer.

“Die oplossing lê in Worcester se mense. Die organisasies, wat reeds toegewyd werk, en inwoners sal moet hande vat om hierdie probleem op te los,” het ds. Eloff gesê.

• Die BVM het inwoners gevra om onmiddellik misdaadvoorvalle deur haweloses by die munisipale inbelsentrum aan te meld sodat ‘n wetstoepasser uitgestuur kan word.

‘n Groot groep haweloses het ‘n skuiling gemaak by die afdakke oorkant die stasie in Worcester.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article