Grace Kids, ’n sentrum vir vroeë kinderontwikkeling, het in Januarie sy deure wyd oopgegooi om twaalf kleuters te ontvang.
Dit is ’n projek van die Worcesterse Christengemeenskap wat daarop gemik is om die lewe van mense in moeilike omstandighede te verbeter. Die kinders woon in die plakkerskamp in Avian Park.
Volgens die hoof, Jana van Niekerk, word die kinders soggens met ’n bussie opgelaai en 12:00 weer afgelaai. Hulle ontvang drie maaltye.
“Ons het vanjaar begin met kinders in die ouderdomsgroep van drie tot vier jaar. Ons beplan om volgende jaar nog twaalf kinders in hierdie ouderdomsgroep by te voeg wanneer vanjaar se kleuters na die volgende ouderdom toe aan skuif,” sê Van Niekerk.
Die gebou in Napierstraat is nuut ingerig om as kleuterskool te dien.
“Ons wil die kinders voorberei vir die lewe en seker maak dat hulle skoolgereed en op die regte ontwikkelingsvlak is wanneer hulle skool toe moet gaan. Ons tel enige uitvalle op en gee aandag daaraan. Dit verbeter hul kanse aansienlik om goed te doen in die skool.”
Van Niekerk en Chinell Ferreira is albei gekwalifiseerde onderwyseresse.
Pastoor Johan Schoonraad het op die opening op Woensdag 19 Februarie gesê die verskil wat in hierdie kinders se lewe gemaak word, steeds vrugte sal dra lank ná die volwassenes wat daar betrokke is, se lewe verby is.
“Die kerk finansier hierdie skool, want dit is wat die Here ons roep om te doen,” sê Schoonraad.




