Ná die hoogste reënval in die Wes-Kaap sedert 2018 en verbeterde water-beskikbaarheid, behoort landbouproduksie in die provinsie ’n hupstoot te kry met beter vrugte-uitvoere.
Die sagtevrugte-organisasie Hortgro se uitvoerskattings vir appels voorspel ’n toename van 6% in vergelyking met verlede jaar se syfer.
Projeksies vir die uitvoer van pere toon ook ’n toename van 12% vir hierdie seisoen vergeleke met die vorige seisoen.
Nektarien-uitvoer sal na verwagting met 26% groei en perske-uitvoer sal ook hierdie seisoen positiewe groei van 2% toon, vergeleke met die vorige een.
Die organisasie skryf die toename in die uitvoerskatting toe aan onder meer jong boorde wat produksie betree.
Streke wat positiewe groei toon, is Ceres, Bergrivier, Klein Karoo en Stellenbosch.
Ivan Meyer, die provinsie se LUR vir landbou, sê gesien in die lig van baie ontwrigtings van internasionale handel weens Covid-19, het bottelnekke in die fasilitering van handelsgeleenthede steeds die betroubare aanbod van grondslag-landbouprodukte bedreig. Hy het gesê desondanks hierdie uitdaging, beur landbou in die Wes-Kaap vorentoe.
“Die Wes-Kaapse landbousektor is uitvoergerig en dra 53% by tot nasionale landbou-uitvoer. In 2020 het die Wes-Kaap R78,68 miljard se gekombineerde landbou- en agri-grondstofprodukte uitgevoer. Agt van die 10 grootste uitvoerprodukte uit die Wes-Kaap het ’n landbougrondslag,” sê hy.
Jannie Strydom, uitvoerende hoof van Agri Wes-Kaap, sê ’n toename in vrugte-uitvoer toon die vermoëns van Wes-Kaapse produsente ondanks groot uitdagings. Hy sê hoewel dit wonderlike nuus is, moet infrastruktuur soos hawens op volle kapasiteit funksioneer sodat landbou kan aanhou groei en tot die ekonomie bydra.





