Gelsquad het ‘n indrukwekkende vertoning gelewer by die Wesbank- Super Spar-Mount Royal-7’s-toernooi wat die afgelope naweek in Malmesbury plaasgevind het, en die dag in die derde plek afgesluit.
Die span het sy veldtog op ‘n hoë noot begin met ‘n oortuigende 29-5 oorwinning teen Hamlets in sy eerste wedstryd. Hy het die momentum voortgesit in die tweede kragmeting met ‘n 28-12-sege oor Paarl Warriors, voordat hy sy groepswedstryde met ‘n dominerende 41-5-sege teen Soldier Fit afgesluit het. Hierdie uitslae het verseker dat Gelsquad eerste in sy groep eindig en met selfvertroue na die kwarteindstryd deurdring.
In die kwarteindstryd het Gelsquad gemaklik teen Albertinia geseëvier met ‘n 29-5 oorwinning, wat sy plek in die halfeindstryd verseker het. Daar het hy egter in ‘n naelbytstryd teen die uiteindelike kampioen van die dag, Forward Foundation, met 12-7 vasgeval.
Ná die halfeindstrydnederlaag het Gelsquad sy fokus herwin vir die plaatfinaal (derdeplek- wedstryd) en ‘n indrukwekkende vertoning gelewer deur die SA All Stars 7’s Akademie met 41-12 te klop.
Met hierdie goeie prestasie eindig Gelsquad die toernooi in derde plek, en as een van die uitblinkers van die dag. – Luciano du Toit





