Die 58-jarige Marlene Helen Witbooi is op 9 April ná ’n terugslag oorlede.

Credit: SYSTEM

Een van Worcester se geliefdste verpleegkundiges en gemeenskapsmens by uitstek, die 58-jarige Marlene Helen Witbooi, is op 9 April ná ’n terugslag oorlede.

Witbooi was voorwaar ’n omgee-mens wat veral uitgereik het na kinders wat in moeilike omstandighede hul kwalifikasies wou verbeter. Daarby het sy menigmaal met haar eie vervoer haar pasiënte na die plaaslike hospitaal vervoer.

Witbooi was ook ’n geordende pastoor en was die vyfde oudste van 10 kinders. Sy was in die NGK Oefenskool en het aan Esselenpark Sekondêr gematrikuleer.

Sy het haar as kliniese verpleegkundige aan die Groote Schuur-hospitaal bekwaam en het later ’n nagraadse diploma in primêre gesondheidsorg (cum laude) aan die Universiteit Stellenbosch verwerf.

Sy het haar loopbaan as verpleegkundige by die Helderstroom-korrektiewe dienste begin en het later vir die Kaapse Wynland-distriksmunisipaliteit gewerk. Daarna het sy by die Worcester-gemeenskaps­gesondheidsorgsentrum diens gedoen.

Daarna gaan het sy onder meer as klinieksuster by die Somerset- en Maria Pieterse-kliniek gewerk tot sy verlede jaar weens gesondheidsredes halt moes roep.

Sy was getroud met Atjinith Witbooi en hulle het een seun, Ashwin. Sy was ’n geordende pastoor en saam met haar man het hulle hul gemeente die Penticostal Evangelistic Outreach Ministries met oorgawe gedien.

Die verbyrydiens wat op 13 April vir haar gehou is, en ook waar honderde begrafnisgangers Saterdag 16 April die diens in die Maranatha-kerk bygewoon het, was tekenend van watter rol sy ook in die gemeenskap vervul het.

Benewens haar man en seun laat sy haar bejaarde moeder, vyf susters en vier broers agter.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article