Verrigtinge by die Hoërskool Breërivier in Worcester het op Vrydag 21 Februarie vroegoggend tot stilstand gekom. Die onderwysers het hul klasdeure toegetrek omdat nege van hulle in Desember verlede jaar laas betaal is.
Die skool het net ná 12:00 ’n boodskap op Facebook geplaas wat lui: “Goeie dag ouers en skoolgemeenskap. As gevolg van abnormale omstandighede gaan die skool nou vir die leerders verdaag. Jammer vir die ongerief.”
Nico Hendricks, waarnemende adjunk-prinsipaal, het bevestig die skool het die nodige dokumentasie ingedien en aan die departement se bykomende versoeke voldoen. Hulle wag glo vir finale terugvoering.
“Onderwysers het die kantoor genader en versoek dat daar druk op die departement geplaas word sodat hulle betaal word. Ons het vir ’n vergadering met die departement gevra en ’n brief gestuur. Teen Vrydag het ons egter net ’n stemboodskap ontvang wat die situasie aan die onderwysers verduidelik.”
Hy het gesê die skool het altesaam 42 onderwysers. Die departement vergoed die skool vir 33 onderwysers, met nege wat nuwe kontrakte het, wat nie vanjaar betaal is nie. “Van die onderwysers het verlede jaar al as kontrakwerkers by die skool gewerk.”
Hy het gesê daar was Vrydag deurentyd onderwysers op die terrein om na die kinders se veiligheid om te sien. “Ons beplan om die vyf periodes wat Vrydag verlore gegaan het in die komende weke in te haal. Kontaktyd met die kinders is vir ons belangrik,” het hy gesê.
“Die Wes-Kaapse Onderwysdepartement is bewus van die situasie. Ongelukkig was daar ’n oponthoud met die verwerking van die betalingsaansoeke vir nege van die onderwysers by die skool. Die dokumentasie is eers op 14 Februarie ingedien, maar die departement het verdere inligting aangevra. Die aansoeke is op Maandag 17 Februarie afgeteken,” het Bronagh Hammond van die departement gesê.
Hammond het gesê beamptes van die distrik het Maandagoggend die skool besoek en alle klasse het weer normaal voortgegaan.





