Vir baie kinders is ‘n kosblik iets vanselfsprekend, ‘n broodjie, vrug of peuselhappie wat soggens ingepak word. Vir talle kleuters en skoolgaande kinders in die Wes-Kaap is die werklikheid egter heel anders.
Baie daag daagliks by die skool sonder voldoende kos op, en vir sommige is die maaltyd wat hulle by die skool ontvang die enigste voedsame ete van die dag.
Volgens Solidariteit Helpende Hand se Wes-Kaapse span neem die behoefte aan voedselhulp in gemeenskappe reg oor die provinsie toe. Stygende lewenskoste, werkloosheid en die druk op huishoudelike begrotings maak dit vir al hoe meer gesinne moeilik om genoeg kos op die tafel te sit.
Die grootste slagoffers is kinders.
Honger beteken veel meer as net ‘n leë maag. Dit beïnvloed kinders se vermoë om te konsentreer, te leer en ten volle aan die skooldag deel te neem.
Onvoldoende voeding het ook ‘n direkte uitwerking op hul ontwikkeling, selfvertroue en uiteindelik hul toekoms.
Om dié rede werk Helpende Hand in die Wes-Kaap saam met gemeenskappe, skole en ondersteuners om voedselonsekerheid onder kinders te help verlig.
Elke maaltyd wat voorsien word, beteken meer as net kos. Dit gee ‘n kind die energie om te leer, te speel en te droom van ‘n beter toekoms.
Die organisasie sê die behoefte bly egter groot. Inwoners wat ‘n bydrae wil maak, ‘n projek wil ondersteun of meer wil uitvind oor die nood in Wes-Kaapse gemeenskappe, kan ‘n e-pos stuur na alisha@helpendehand.co.za vir nog inligting.




