Fotograwe van die Worcesterse fotografieklub en leerders van die Hoërskool Charlie Hofmeyr in Ceres en Western Cape Youth Photographers in Wolseley neem deel aan ’n unieke uitstalling deur 171 fotograwe van 21 Wes-Kaapse klubs, wat tot 31 Desember by die Groot Constantia-wynlandgoed besigtig kan word.
Die uitstalling in die wynproekelder op die landgoed is besonders, want dit is die eerste keer dat soveel klubs saamwerk om hul werk uit te stal.
Cape Town Photographic Society (CTPS), die eerste fotografieklub wat in 1890 in Suid-Afrika gestig is, het die uitstalling namens die ander klubs in die streek saamgestel.
Altesaam 16 senior klubs van oor die hele Wes-Kaap het die uitnodiging aanvaar om werk van hul beste fotograwe aan die talle besoekers aan die gewilde toeristebestemming te vertoon.
Daarbenewens neem vyf skoolklubs ook aan die uitstalling deel.
Die uitstalling, “Celebration of Photography”, is ’n fees van hoëgehalte foto’s wat deur die streek se amateurfotograwe geneem is.
In stede daarvan om in die gebruiklike jaarlikse Interklub-kompetisie teen mekaar mee te ding, het die klubs vanjaar besluit om saam te werk om aan die publiek te wys dat fotografie ’n kunsvorm is wat waardig is om teen mure uitgestal te word.
Talle van die werke in die uitstalling het nasionale en internasionale pryse gewen.
Die foto’s illustreer ook die verskeidenheid genres en tegnieke wat klubfotograwe baasgeraak het – landskappe, portrette, wildlewe, visuele kuns en abstrakte werke is van die soort foto’s wat in swart en wit en in volkleur gesien kan word.
Die deelnemende klubs vergader oor die Skiereiland heen en in plattelandse dorpe so wydverspreid soos Paternoster, Wolseley, Worcester en Hermanus. Hulle is almal verenig deur ’n gedeelde doelwit – om die genot van fotografie onder hul lede te bevorder en hulle die geleentheid te bied om hul vaardighede te verbeter.
Die uitstalling word gehuisves in die wynproekelder van Groot Constantia – Suid-Afrika se oudste wynlandgoed en een van die Kaap se gewildste toeriste-bestemmings. Dit is daagliks oop van 10:00 tot 17:00 tot 31 Desember en toegang is gratis.
. Kontak Lin Adshade by 082 638 5624 of linadshade@gmail.com vir inligting oor Worcester se fotografieklub.




