Donkies gaan baat vind by ’n unieke konsert in Robertson. Die Kaapstadse Filharmoniese Orkes gaan die heel eerste keer in die Breërivier-vallei optree en groot afwagting heers reeds vir dié spesiale geleentheid.
Die sprankelende program word aangebied om almal opnuut bewus te maak van die kernrol wat diere in baie mense se lewens vervul. Wêreld-diere-dag was juis verlede week. Robertson se konsert bied ’n verdere dimensie met die opbrengs wat aangewend word vir donkiewelsynsprojekte van Eseltjiesrus Donkey Sanctuary by McGregor.
Eseltjiesrus bied ’n veilige heenkome vir donkies wat mishandel was en uit haglike omstandighede gered is, of nou net afgetree is.
Die konsert se program behels ’n wye verskeidenheid en word tereg genoem Musiek vir almal. Liefhebbers van musiek kan onder meer uitsien na Mozart se klavierkonsert (adagio-gedeelte), Elgar se Nimrod-variasies (met orrel), “Pavane” van Faure, Dvorak se “Slawiese Danse”, selfs Star Wars en Abba – en nog meer!
’n Besondere aspek van die konsert is dat jonger en ouer mense van alle kultuurgroepe deur borgskappe betrek word om die puik musiek te geniet, wat hulle moontlik nie andersins sou kon bekostig nie. Die groep sluit in kinderhuise, ouetehuise, plaaslike orkeste en musiekstudente.
Die samekoms poog om ’n tweeledige doel te bereik, naamlik die genot van goeie musiek deur ’n wye spektrum van die gemeenskap, asook steun vir die welsyn en sorg van donkies.
Dié fees van musiek word Sondag 8 Oktober om 15:00 in Robertson se Oos-kerk aangebied.
Kaartjies verkoop soos soetkoek en is beskikbaar by toerismekantore in Robertson, Montagu en McGregor. In Worcester is die verkooppunt die Durbanstraat-dierekliniek.
Kaartjies is ook by die deur beskikbaar. Kaartjies kan ook aanlyn gekoop word – stuur e-pos na adopt@donkeysanctuary.co.za. Toegang beloop R150 vir volwassenes en R75 vir studente. Kom geniet ’n onvergeetlike middag terwyl donkies direk daarby baat vind.. Skakel 023 625 1593 vir enige navrae.





