Carel Beneke met sy fiets met die 49 cc-enjin.Foto: Ronél van Jaarsveld


Carel Beneke (72) van Worcester het tien jaar lank met sy fiets, waarop hy ’n 49 cc-enjin gemonteer het, in die dorp rondgery.

Hy het selfs soms ’n waentjie gesleep waarop hy kartonbokse wat hy vir ’n inkomste herwin het, gelaai het.

Dié fiets staan egter nou by die huis, nadat Beneke deur ’n verkeersbeampte van die pad getrek is. Die fiets is blykbaar onwettig op die pad.

“Ek was sommer baie ontsteld! Ek ry al jare lank met die fiets rond en die enjin is so klein, ek kan nie baie vinnig ry nie, maar dit help darem as ek swaar goed oplaai,” het hy vertel.

“Daar is vir my gesê dat my fiets deur die padwaardigheidstoets sal moet gaan en ’n lisensie moet hê.”

Die verkeersdepartement het hom ingelig dat hy ’n beswaar kan indien, met foto’s van sy fiets en die enjin.

Volgens Hannelie Botha, woordvoerder van die Breedevallei-munisipaliteit, het die verkeersdepartement bevestig dat dit onwettig is om met so ’n fiets op openbare paaie te ry, soos wat dit in die Nasionale Padverkeerswysigingswet aangedui word.

“Ons is geadviseer dat daar wel pogings is om die definisie aan te pas van voertuie soos syne, maar in hierdie stadium is die fiets ingevolge die wet onwettig,” het sy gesê.

Dit laat die vraag ontstaan oor wat die stand van die wet is oor elektriese fietse oftewel “e-bikes”.

Daar is ’n wetsontwerp wat voorstel dat die definisie van ’n fiets verander word om e-bikes in te sluit, maar slegs indien hulle nie vinniger as 25 km/h kan ry nie. E-bikes wat vinniger as 45 km/h ry moet gelisensieer word, het die voorstel gelui.

Francois Esterhuizen van Manic Cycles in Worcester het verduidelik dat e-bikes anders as motorfietse is omdat dit nie met ’n enjin werk en krag nie in cc gemeet word nie, maar dit ’n elektriese motor het. “Elke land het sy eie reëls en veral Europa is baie streng. E-bikes het ’n ingeboude reëlaar om die spoed tot minder as 25 km/h te beperk,” het hy verduidelik. In hierdie stadium is ’n lisensie nie nodig nie.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article