Die Herberg Kinderhuis in Robertson dien al vir 106 jaar hulpbehoewende kinders. Foto:


Herberg Kinderhuis in Robertson bestaan al sedert 1918.

Die Kinderhuis het tydens die Groot Griepepidemie van 1918 tot stand gekom.

“Die griep-weeskinders is aanvanklik in ’n woonhuis versorg. Die woonhuis is later deur Herberg Kinderhuis – wat tans die Ou Herberg-woonstelle is – vervang. Die Kinderhuis self het in 1980 na die nuwe geboue in Van Zylstraat verhuis.”

Die Kinderhuis is ’n program van Badisa en word ook deur die staat gesubsidieer.

“Die begroting beloop R15 miljoen per jaar, waarvan die staat 43% bydra.

“Kos, klere en toiletware is vir ons ’n groot uitgawe. Elkeen se bydrae maak ’n groot verskil in ons kinders se lewe. Die uitdaging om geld in te samel, raak elke jaar al hoe groter,” verduidelik Petro Uren, die Kinderhuis se bemarker.

Altesaam 122 seuns en meisies woon tans in die tehuis.

“Hulle woon in die verskillende huiseenhede. Vyftien kinders tussen die ouderdom van ses en 18 jaar word per eenheid vir skoolgaande kinders gehuisves. Die afdeling vir kleuters versorg babas en kleuters vanaf geboorte tot ongeveer ses jaar oud.”

Kinders van beide die Wes-Kaap en Oos-Kaap word na die kinderhuis verwys.

“Ons huisves kinders wat deur ’n hof sorgbehoewend bevind word. Redes vir opname wissel van verweesdheid (sonder ouers wees), verwaarlosing en (tekort aan) bestaansmiddele tot seksuele molestering en mishandeling. Daar word voorsiening gemaak vir die versorging en terapeutiese begeleiding van kinders.”

Die kinders kry ook die geleentheid om party naweke en tydens vakansies by vakansie-ouers te bly.

“Hulle ontvang ons kinders tydens uitnaweke en vakansies in liefde en stel hulle aan ’n normale huishouding, gesin en rolmodelle van ’n ma en pa bekend.”

Die Herberg Kinderhuis lewer ook die volgende dienste:

. 24-uur- residensiële sorg;

. Assessering van kinders;

. Terapeutiese programme;

. Skolastiese opvoeding;

. Sportontwikkeling;

. Skoling in lewensvaardighede;

. Ondersteuning en ontwikkelingsgeleenthede;

. Vakansie-ouers: werwing en keuring; en

. Gesinshereniging en gesinsherintegrasie.

Hulle verwelkom ook altyd skenkings van die volgende:

. Skoonmaakmiddels;

. Toiletware;

. Klere en linne;

. Vrugte en groente;

. Kruideniersware;

. Skryfbehoeftes;

. Sporttoerusting;

. Studiehulp;

. Erflatings; en

. Finansiële bydraes. . Kontak die Die Herberg Kinderhuis se bemarker, Petro Uren, by 084 586 2583 of petro@herberg.co.za vir meer inligting en om betrokke te raak.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article