‘n Verkeersbeampte en twee mans van Avianpark het Maandagoggend (21 Julie) in ‘n moordsaak in die Worcester-hof verskyn nadat hulle by die skietdood van ‘n 17-jarige seun twee jaar gelede betrek is.
Die staat voer aan dat die verkeersbeampte Tanki John Makoala (43) asook Aubrey en Dulah Luthando Mngomezulu (onderskeidelik 35 en 27 jaar oud) verantwoordelik is vir die dood van die tiener, Judu Gabriels, nadat hy op 11 Maart 2023 naby Vinkstraat in Avianpark met ‘n vuurwapen geskiet is wat aan Makoala in sy kapasiteit as verkeersbeampte uitgereik is. Wat presies tot die noodlottige voorval gelei het, is in hierdie stadium nog onduidelik.
Makoala, wat ten tyde van die voorval ‘n verkeersbeampte in Worcester was, is die afgelope week in die Vrystaat aangekeer, terwyl die ander twee reeds sedert 27 Mei in aanhouding is, sê Eric Ntabazalila, ‘n woordvoerder van die nasionale vervolgingsgesag (NVG).
Die Mngomezulu’s is na bewering lede van die JCY-bende.
Die saak is uitgestel tot Donderdag 24 Julie vir Makoala se borgaansoek.





