Vryheidsdag word elke jaar op 27 April gevier. Dit is die dag, in 1994, waarop Suid-Afrika sy heel eerste demokratiese stemdag gehad het.
Standard het ’n paar bekendes oor hul herinneringe van daardie historiese dag gevra. Dit was ’n geskiedkundige dag in die sin dat alle rasse ouer as 18 hul kruisies kon maak, wat daarna tot die verkiesing van die reënboognasie se eerste president van kleur, Nelson Mandela, gelei het.
Charles Beukes, ’n bekende in die gemeenskap, sê hy onthou meestal televisiebeeldmateriaal van daardie geskiedkundige dag.
“Ek onthou die televisiebeelde – kilometer lange rye . . . Mense moes eers oud word voordat hulle die eerste keer in hul lewe die magiese stem-kruisie kon trek. ’n Verdere paar ure se geduld – nadat hulle 50, 60, 70 jaar vir dié dag gewag het, sou geen verskil maak nie. Gesigte van dankbaarheid, vrede en hoop was te sien. Dat die dag kon geskied – en so vreedsaam – was op sigself ’n wonderwerk, gesien in die lig van die voorafgaande geweld-situasie. Worcester het sy kwota strydleiers gelewer – Hennie Ferrus en vele ander, wat nooit die vreugde sou ervaar van ’n bevryde Suid-Afrika waarvoor hulle, soos Mandela, bereid was om te sterf nie. Ons seuntjies van vyf en twee jaar oud het Madiba se vrylating uit die Victor Verster-gevangenis op 11 Februarie 1990 meegemaak en in die triomfantelike kavalkade na die Parade gedeel. 27 April was dus ’n logiese bevestiging dat hul toekoms in ’n vrye demokratiese Suid-Afrika verseker was – die verwagting van ’n beter lewe vir almal. Verder, wat my sal bybly, is die gesig van die People’s team, Young Hamiltons – geklee in hul blou baadjies om te gaan stem vir ’n nuwe bedeling waartoe baie van hul lede self opgeoffer het.”
Die Breedevallei-munisipaliteit se burgemeester, Antoinette Steyn, meen 1994 was ’n groot jaar vir baie mense.
“Verskeie emosies, verskeie gedagtes van soveel inwoners, baie met hartseer, baie kwaad en baie wat geweet het van veranderings, nuwe leiers en veranderinge wat daar gaan wees. Vandag, as ek terugdink, wens ek ons kan oor die brug loop en die ou hartseer agterlaat en nuwe geskiedenis maak vir ons toekoms en dié wat ons gaan agterlaat as ons as leiers nie meer hier is nie – vryheid sonder vrees, vryheid vir almal, vryheid vir Suid-Afrika. Dis my droom vir 27 April 2023.”
Diana Ferrus, ’n oudinwoner en bekroonde digter en skrywer, het hierdie oor daardie spesiale dag in die land se geskiedenis geskryf: “Daardie dag op 27 April 1994 het ek my ma se hand gevat, want dit was ’n nuwe dag in ons land. Sy was 68 en ek was 41 en terwyl die oggendson sy daaglikse gang gegaan het, het ons stadig geloop, tree vir tree. Die paaie het gegons, maar ons gedagtes was helder, ’n nuwe dag in ons lewe was hier. Op wankelrige bene het sy die saal binnegegaan maar met kop omhoog het sy skielik so lank gelyk. Ek het haar dopgehou toe sy haar kruisie maak en besef ons het ons waardigheid wat ons verloor het, op 27 April 1994 herwin. Ek het weer my ma se hand gevat, want dit was ’n nuwe dag in ons land.”





