Ons vier Vryheidsdag Sondag 27 April. Die Standard Breederivier Gazette het die strate ingevaar en inwoners gevra hoekom en hoe hulle dié dag gedenk. Talle inwoners was aanvanklik vaag, tot hulle onthou ons het op dié dag in 1994 die eerste nasionale verkiesing in Suid-Afrika gehou waar mense van alle rasse kon stem.
Die nuwe Grondwet het ook in werking getree. Dit het groot veranderinge in die land meegebring.
Hier is van die inwoners se insigte ná 31 jaar, ná daardie stemdag:
Luciano du Toit sê hy wil sy kinders die wysheid van hierdie dag leer. “Ek wil hulle vertel dat hulle hul stemme elke dag moet laat hoor – nou en ook in die toekoms – sodat hulle nie hul vryhede verloor nie. Dis belangrik. Ek gaan die dag saam met my gesin deurbring.”
Peter Natal sê dat daar wel veranderinge is, maar dat baie mense se lewe maar net dieselfde is as voorheen. “Mense lewe van dag tot dag. Daar is amptenare wat die nuwe Vryheidsdag vier, maar nie eens bewus is van ons gewone mense se bestaan nie. Ek sien nie aldag wat daar is om te vier nie.”
Juwayne Naidoo sê daar is definitief positiewe veranderinge in die land. “Ons moet aanhou vorentoe beweeg as nasie, as ‘n eenheid. Dit was mos die hele doel. Dit moet nie net een party wees wat besluite namens almal neem en besluit watter rigting ons inslaan nie. Ek gaan die dag saam met my gesin deurbring.”
Hannah Maarman en Cynthia Funyanwa sê die veranderinge sedert 1994 het ook meer geestelike vryhede gebring. “Vroue het ook nou meer regte en kan dominees en pastore word. Mense kan nou vrylik byeenkom om kerk te hou en ander funksies by te woon. Die Grondwet het vroue verhef en meer ruimte gegee.”
Jane Snyman sê sy dink nie Suid-Afrikaners het mekaar regtig geken voor die veranderinge wat 1994 meegebring het nie. “Dit was ‘n deurmekaar tyd in ons land, met baie mense wat in vrees geleef het, maar dit het ons meer geleer van mekaar se kulture en ook hoe ons verskillend aanbid.”









