Kan mammogramme borskanker veroorsaak?
Nee. Vir meer as 40 jaar gaan miljoene vroue vir mammogramme. Soos met alle bestraling is daar blootstelling aan X-strale maar die dosis wat gebruik word, is baie laag.
Moderne mammogramtegnieke het oor die afgelope jare aansienlik verbeter.
Ons “Full Field” digitale mammogrammasjien gebruik slegs 0,1 tot 0,2 bestraling per X-straal, wat ’n besondere lae bestralingsdosis is.
’n Vraag wat gereeld gevra word, is of kompressie borskanker kan veroorsaak.
Kompressie affekteer glad nie die borsweefsel nie. Inteendeel, dit is belangrik dat die bors saamgepers word as mens ’n effektiewe mammogram wil neem.
Borsweefsel word gesprei om te sorg dat borsstrukture gesien kan word.
Danksy kompressie kan die X-strale-dosis ook verlaag word.
Pasiënte moet seker maak hulle kry mammogramme by plekke waar moderne mammogram-toerusting gebruik word.
Ek het gehoor mammogramme is baie pynlik?
Hoewel die borste saamgepers word, ondervind baie vroue wat mammografie ondergaan geen pyn nie.
Vroue met baie sensitiewe borste mag wel ’n mate van ongemak ervaar as die mammogram behoorlik gedoen word.
As ek vir plastiese borschirurgie wil gaan, moet ek eers ’n borsondersoek laat doen?
Voordat jy plastiese chirurgie kry, is dit altyd raadsaam om vir ’n borskankerskandering te gaan.
Enige chirurgie aan die borste sal toekomstige evaluasie van die borste meer ingewikkeld maak en daarom verhoog dit die kanse dat ’n bestaande kanker gemis kan word.




