Die woorde “groenstoor” sal min of meer dieselfde ding oral in die wêreld beteken. Behalwe in Worcester. Vir Worcesteriete beteken Groenstoor nou ’n heerlike oggend van samesyn wat elke vier weke sy deure oop maak.
Op die eerste Saterdag van elke maand ontaard die Groenstoor in Brandwacht in ’n miernes van genot. Hierdie Pure Boland Mark bring ongeveer 45 produsente en entrepreneurs bymekaar wat hul heerlike en pragtige skeppings te koop aanbied aan diegene wat lief is vir plaaslike produkte asook plattelandse gasvryheid.
Die Groenstoor word deur etlike duisende mense jaarliks besoek, wat nie net vanuit die Breedevallei kom nie, maar besoekers kom van heinde en ver na hierdie gewilde mark. En talle van hierdie besoekers kom al die pad saam met die mark sedert sy ontstaan in 2009. En ongeag van die weer, die Groenstoor gaan maandeliks voort.
Om te eet
Ontbyt, brunch of middagete? Of jy reeds vroegoggend of in die middag daar aankom, sal daar smaaklike etes wees om jou honger te stil. Of jy nou van geurig of soet hou, daar sal iets wees vir almal se aptyt, asook volop peuselhappies. En al die geregte is heilsame tuisgemaakte geregte – en self vir die Tim Noakes aanhangers, verskeie banting geregte en glutenvrye produkte.
Om te drink
Of dit nou is om jou dors te les of net ’n drang vir iets lekkers – blus dit met enigiets van Barista gebroude koffie, bekroonde vlyt-bier of gespesialiseerde drankies en skemerkelkies gemaak van eksotiese bestanddele. En moet ook nie vergeet van al die lekker plaaslike wyne wat daar is om te proe nie.
Om dit te doen
Dwaal heerlik rond tussen talle interessante stalletjies, terwyl jy hier en daar ’n bekende gesig raakloop en ’n geselsie aanknoop. En dan ook genoegsame plek om rustig binne of buite in die sonnetjie te gaan sit en voete rus, terwyl jy aan iets eet of drink.
Om huis toe te neem
Die eintlike vraag hier is wat neem jy nie huis toe nie? Jy kan kies en keur tussen topgehalte vars produkte – vleis en kaas. Of maak jou aandete vir jou gaste baie spesiaal met ’n groot verskeidenheid nuwe plante en kruie. Bederf jouself met ’n nuwe stel oorbelle of ’n sak vars blomme vir die huis of ’n nuwe dekorstuk en pragtige handgemaakte speelgoed vir die kinders. Voer jou gedagtes met ’n boek of jou siel met ’n skildery. Daar is byna oneindige keuses.
Vir die kinders
Ure van pret vir die hele gesin beteken ure van vrede vir ouers. Om die kinders besig te hou bied Walter en Annemarie Strydom al vanaf dag een verskeie pretbedrywighede vir die jongspan aan soos sand-kuns. Onlangs het Henna Conradie ook aangesluit om ’n kreatiewe hoekie vir die kinders te skep waar hulle kan inkleur, teken, verf, klei speel en nog meer. En vanaf 3 September raak Liza Wright, ’n gehoorgestremde, deel van die kindervermaak-span, waar sy kinders sal bederf met gesigverf.
Die jongspan word voortdurend versorg deur ’n volwasse helpende hand, terwyl ouers ’n kans kry om te ontspan.
En soveel meer…
Maar als by die Groenstoor gaan nie net oor lekker eet en bederf nie. Gereelde besoekers kom ook keer op keer terug vir ’n gesonde dosis vars plaaslug, die pragtige uitsig van die Breedevallei-wynlande en berge en ’n feestelik vriendelike omgewing waarin hulle hul batterye herlaai vir die komende week.
Kontak ons: Ons sal jou oproep verwelkom as jy ’n tuisnywerheid of klein besigheid bedryf en wil jou handewerk hier ten toon stel. Alle navrae is ook welkom.
Adres: Groenstoor, Brandwacht, Worcester
GPS-koördinate: -33.599544,19.426718
Werksure: Elke eerste Saterdag van die maand (behalwe Januarie), 9:00-14:00
Facebook: Pure-Boland-Market
Kontak Tharina Jonker: tharina@realevents.co.za, 082 301 8561, 023 342 3538. Webtuiste: : www.purebolandmarket.co.za
Nou
Saterdag
3 September!
Come rain or
shine, we are open.
Nou
Saterdag
3 September!




