Te midde van ’n wêreld waarin ons gebombardeer word met negatiewe, ontstellende, hartseer en sommer partykeer ’n “hou-in-die-maag”-nuus, het ons al so gewoond geraak daaraan dat elkeen vir homself sorg en die duiwel vir die laaste een.
Maar, dan gebeur iets wat tog die vlammetjie van hoop op ’n beter wêreld aanblaas.
Daar is nog mense wat getrou is aan die opdrag om lig vir hierdie donker wêreld te wees. En dit wil ek met julle deel.
Ek het my op Donderdag 1 Februarie in Checkers, Robertson, bevind om te doen wat ’n mens gewoonlik daar doen. Dit is die begin van die maand en die koskas is leeg!
Daardie oggend het ek my pêrel-oorkrabbetjies met bypassende hangertjie aangesit. Hierdie juwele was vir my besonder kosbaar omdat dit ’n geskenk was van my wederhelf met ons 25ste huweliksherdenking. Ek het op ’n tydstip iets hoor val, maar aangeneem dit is geld van die ander klante rondom my wat op die vloer beland het.
By die kasregister het ek begin uitpak met ’n haastige, ongeduldige man wat in my nek geblaas het. Hy kon nie wag dat ek moes klaarkry nie.
Skielik het ek gevoel iemand klop saggies op my skouer. Ek kyk om en ’n vrou vra:
“Het mevrou dalk ’n hangertjie verloor?”
Ek voel. Dit is nie daar nie.
“Is dit dalk mevrou se hangertjie?”
Dit ís myne. Maar, waar en hoe? Terwyl ’n warboel van gedagtes deur my kop flits, kan ek net bevestigend antwoord.
Toe vertel sy dat sy die hangertjie opgetel het, maar sy kon nie sien wie dit verloor het nie. Slim vrou besef toe sy moet dalk iemand soek wat die pasmaats-oorkrabbetjies dra.
So stap sy deur die winkel en bekyk elke vrou. Met letterlik minute oor sien sy my by die kasregister, waar ek toe al besig was om te betaal.
Nodeloos om te sê was ek só dankbaar – skoon sprakeloos en oorstelp van vreugde dat ek die hangertjie teruggekry het.
Ons kon nie verder praat nie en ek kon haar net vinnig bedank en haar naam kry. Voordat ek uit die winkel is en my gedagtes agtermekaar was, het ek nog probeer kyk of ek haar sien. Maar, sy was al weer besig om haar pligte as werknemer by Checkers na te kom.
Ek het wel ’n week daarna teruggegaan en haar ontmoet.
Ek hoop die lesers kan verstaan waarom hierdie gebeurtenis my so aangeraak het, dat ek wil hê ander moet dit ook hoor of dan daarvan lees.
Eerstens bly dit ’n wonderwerk dat ek dit in Checkers verloor het – op enige ander plek was dit dalk vir ewig verlore.
En dat hierdie vrou dit nie in haar sak gesteek het nie – wie sou dit agtergekom het?
En dat sy dan nog die moeite gedoen het om my op te spoor!
Ek moet Checkers ook bedank dat hulle werknemers met soveel integriteit het.
Hierdie eerlike vrou se naam is Marionette van Thura. Sy maak die wêreld ’n beter plek. Sy laat ’n mens weer glo in die goeie.
Sy is werklik ’n Spreukevrou: “Alles aan haar spreek van ’n sterk en edel persoonlikheid.”
Weer eens – baie dankie, Marionette. Mag jy elke dag ryke seëninge beleef!





