’n Clovers-kolwer in aksie teen Hartwig Lions.Foto: Luciano du Toit


Op 26 Maart het die Clovers-vlakkiekrieketklub se A-span te staan gekom teen Hartwig Lions in die jaarlikse “Big Bash”-toernooi, en weggestap as wenners met 122 lopies in 15 boulbeurte.

Presies om 16:00 het die kaptein van Hartwig Lions die loot gewen en besluit om Clovers in te stuur om te kolf.

Met die windjie wat effens sterk was, was daar ’n verwagting dat dit grenshoue sou reën, maar dit was glad nie die geval nie.

Hartwig Lions het die kolwers van Clovers vroeg op die agtervoet gehad deur ontslae te raak van twee van hul top-kolwers.

Ten spyte hiervan het Mario Marinus en Warren Davids koelkop gebly vir ’n blitsige 40 lopie-vennootskap. Dit het die momentum stadig maar seker gedraai totdat Marinus sy paaltjie verloor het vir 30 lopies.

Gelukkig het Clovers ’n kolforde gehad wat strek tot by 11 en dit was duidelik sigbaar. Ettienne Jansen en Innocent “Siya” Johannes het die skare behoorlik vermaak met hul vermoë om die krieketbal te moker.

Hierdie twee het gesorg dat Clovers eindig op ’n telling van 122 lopies in hul toegelate 15 boulbeurte.

Jansen het 31 lopies bygedra, Johannes 23 en Davids 31.

Vir Hartwig Lions het Wilmar Martin twee paaltjies geneem en agt lopies afgestaan in sy toegelate drie boulbeurte terwyl hy goed ondersteun is deur Marinus wat hy toegelaat het in sy drie boulbeurte.

Met die wind agter hul rug het Hartwig Lions baie hoop gehad.

Op so ’n klein veld kan 123 lopies baie min word, maar dit was ongelukkig nie die geval vir Hartwig Lions nie.

Met die druk wat die toeskouers gebring het en dit wat die boulers van Clovers opgedis het, het Hartwig Lions gebukkend gegaan.

Fyrin Hendricks, die kaptein van die Clovers, het goed begin deur twee paaltjies te laat kantel in sy drie boulbeurte.

Warren Davids het ook twee paaltjies laat val terwyl Mario Marinus en Rayloon Steenberg elkeen drie paaltjies geneem het.

Hartwig Lions kon slegs 68 lopies aanteken wat Clovers ’n oorwinning gegee het van 55 lopies.

Nie een van Hartwig Lions se kolwers is toegelaat om momentum te bou nie. Dis alles danksy die puik boulwerk van Clovers se boulaanval.

Hierdie komende Sondag (2 April), speel Clovers teen Young Stars terwyl Clovers B teen Taranankie te staan kom.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article