Van Worcester reguit na die Top 4 van kykNET se talentsoekprogram Maak my Famous. Nou is dit in die hande van die Breedevallei om vir Cheswyn Ruiters te stem sodat hy die boonste sport kan bereik.

Cheswyn het gisteraand die top vier van Maak my Famous, ’n talentsoekprogram wat deur Emo Adams aangebied word, deurgedring. Hy sê hy het gedink hy sou dit net tot die top 48 of dalk die top 20 maak.

“Noudat ek in die top vier, wat eintlik die finale is, is die druk baie meer. Natuurlik veg ons almal vir dieselfde posisie, maar ek is baie meer opgewonde want jy besef jy is ’n stap nader na die groot prys en jou droom,” sê Cheswyn.

Hy sê Donderdagaand moes hulle hul eie vertoning na die gehoor bring. “Ek het besluit om iets anders te bring. Ek het eers ’n liedjie uit die ou dae gesing, Always on my mind. Toe het ek ’n Afrikaanse liedjie, Baby Tjoklits, gesing en met ’n sterk solo vertoning van And I am telling you deur Jennifer Hudson geëindig,” sê Cheswyn verder.

Volgens Cheswyn het sy solovertoning baie goed gegaan en dit was die vertoning van die aand. “Ek het letterlik geveg en my beste gegee,” sê hy.

Hy sê sy grootste kompetisie is SA Ensemble, omdat hulle baie goed is en ’n storie het wat hulle vertel. Maar hy is reg om alles te gee en die mense van Worcester en Suid-Afrika trots te maak.

“Ek wil graag hê die mense van Worcester en Suid-Afrika moet vir my stem sodat ek die boodskap aan Worcester se jongmense dat daar groot dinge uit Worcester kan kom, kan oordra. Aan al die mense wat my sover ondersteun het, baie dankie en ek hoop almal sal stem,” sê Cheswyn verder.

Sò stem jy

Die wenner van Maak my Famous word deur die hoeveelheid stemme wat die finaliste kry bepaal. Om vir Cheswyn Ruiters te stem gaan na kliek hier.

Op die webtuiste sal daar ’n opsie waar jy eers moet registreer en die riglyne volg om te stem. Die stemlyne sluit Dinsdagaand om 00:00.

Die wenner van Maak My Famous word op 11 Julie aangekondig.

Maak my Famous word Donderdae 20:00 op kykNET (Dstv-kanaal 144) en 21:00 op kykNET & kie (kanaal 145) uitgesaai. 

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article