Munisipale tariewe vervul ‘n kritieke rol in volhoubare dienslewering. Antoinette Steyn, die uitvoerende burgemeester van die Breedevallei-munisipaliteit, sê wanneer tariewe vasgestel of hersien word, word verskeie faktore in ag geneem. Regverdige tariewe lê die grondslag vir beter dienslewering vir almal.
Die begroting vir die 2025-’26-boekjaar is verlede Dinsdag (27 Mei) deur die munisipale raad goedgekeur.
Die volgende tariewe sal van 1 Julie af geld: Eiendomsbelasting en sanitasie styg met 8%, elektrisiteit styg met 15%, water gaan 11% meer kos en vullisverwydering 25% meer. (Standard Breederivier Gazette het vroeër berig die hoë styging in die tarief vir vullisverwydering is omdat dit voorheen slegs vir die verwydering van vullis was. Met die oprigting van die nuwe streekstortingsterrein moet die munisipaliteit nou per kilogram vir die storting van vullis betaal.)
Volgens die munisipaliteit is die uitwerking van die hoër tariewe sowat R118 vir kleiner huishoudings, R277 vir bekostigbare huishoudings, R605 vir medium-grootte huishoudings, terwyl groter huishoudings R1 322 per maand meer sal betaal.
Inwoners wat vir deernis-toelaes kwalifiseer, kan tot 100% korting op sekere tariewe ontvang.
Die nuwe kapitaalprojekte wat volgens die Medium Termyn Inkomste- en Uitgaweraamwerk aangepak gaan word, sluit in die verhoging van die Stettynskloofdam se bergingskapasiteit teen ‘n koste van R120 miljoen. Die omgewingsimpakverslae (OIV) is afgehandel en bouwerk kan binnekort begin.
Aan die westekant van Worcester en die Uitvlugt-nywerheidspark is die OIV afgehandel en grootmaatdienste word geïnstalleer (R44 miljoen). Afvalwaternetwerke, pyplyne en watersuiwerings- aanlegte gaan opgeknap word (R95 miljoen) en beurtkrag- en sonkrag- oplossings word ingestel (R5 miljoen). Die elektrisiteitsinfrastruktuur sal verbeter word (R77 miljoen) en ‘n rampbestuurvloot sal in Rawsonville en Touwsrivier aangeskaf word (R18,8 miljoen). Die Touwsrivier-watersuiweringsaanleg word opgeknap (R28 miljoen) en die Mandela-Noord- en Aspad- informele nedersettings word geformaliseer, titelaktes sal oorgedra word en buitetoilette sal verskuif word (R23 miljoen). Munisipale huureenhede gaan opgeknap word (R14,6 miljoen) en gespesialiseerde vlootvoertuie gaan aangeskaf word (R19 miljoen). Altesaam R22 miljoen sal aan die investering en opknapping van sport-infrastruktuur bestee word en R35 miljoen aan die implementering van fase 3A van die Hexrivier-erosiebeskerming.
Die Transhex-behuisingsprojek en die oostelike Worcester-verbypad word in samewerking met die provinsiale regering aangepak, wat R274 miljoen in sy raamwerk vir mediumtermynuitgawes begroot het. Nog R66 miljoen is vir die herseëling en opgradering van die padnetwerk begroot.
‘n Elektroniese kopie van die begroting is op die munisipaliteit se webwerf.



