Ons almal is onlangs deur die moeilike vullisverwyderingsuitdagings in die Breedevallei geraak.
Hierdie uitdagings is veroorsaak deur vakatures in die vaste-afval-afdeling, asook deur vulliskompakteerders wat breek en buite werking is.
Vir langer as twee jaar was die pos van die direkteur van openbare dienste vakant, aangesien belangstellende mense wat vir die pos aansoek gedoen het, nie oor die nodige kwalifikasies beskik het nie.
Hierbenewens het die bestuurder van die vaste-afval-afdeling bedank, asook die superintendent van die vaste-afval-afdeling.
Gelukkig is die pos van die direkteur van openbare dienste toe drie maande gelede uiteindelik gevul. Dit was ’n baie groot stap vorentoe, met ’n uitstekende aanstelling wat in die persoon van die gekwalifiseerde ingenieur Jean de Villiers gemaak is.
Intussen help die bekwame bestuurder van waterdienste, Saskia Langner, uit met veral die logistieke reëlings van die herwinningsdiens.
Wanneer vulliskompakteerders reggemaak moet word, is dit nie so eenvoudig soos wanneer ’n mens jou voertuig na ’n garage neem om herstel te word nie.
In die munisipale wese is ’n mens aan tenders en kwotasies onderhewig, dus, wanneer ’n vulliskompakteerder breek, moet daar eers ’n kostebepaling gedoen word oor wat presies fout is.
Afhangend van die bedrag van die skade, moet die herstelwerk dan of op tender of op kwotasie uitgaan. Die volg van die voorsieningskanaal se prosesse neem ’n tyd om af te handel, want tenders en kwotasies moet vir sekere voorgeskrewe tydperke geadverteer word, dan moet dit evalueer word, en dan is daar voorgeskrewe appèltydperke.
Wanneer vulliskompakteerders se hidrouliese stelsels breek, verg dit spesialisherstelwerk wat nie altyd plaaslik gedoen kan word nie. Dus wanneer dit dan elders vir herstelwerk moet gaan, is daar dan ’n wagtydperk vir die herstelwerk om gedoen te word.
Met die klomp gebreke wat die vloot vulliskompakteerders onlangs ervaar het, is die oplossing dat nuwe vullistrokke gekoop moet word om by Breedevallei se bestaande vloot van vuilgoedtrokke gevoeg te word.
Aangesien die nuwe boekjaar eers op 1 Julie 2025 begin, is dit ’n hopeloos te lang tyd om nog sewe maande te wag tot dan om nuwe vulliskompakteerders te koop.
Die oplossing waarna die munisipaliteit as geheel toe gaan kyk het, was om te gaan kyk na plekke waar geld op posnommers lê wat nie tans in die huidige boekjaar gebruik gaan word nie, en om dan daardie geld vir die aankoop van nuwe vulliskompakteerders te gebruik.
Vir die oplossing van hierdie probleem is daar nou twee moontlikhede – ’n korttermynoplossing en ’n langtermynoplossing.
Die korttermynoplossing was om net so gou as moontlik weer die gebreekte vulliskompakteerders herstel te kry.
Die langtermynoplossing is dat die voorsieningskanaal tans besig is met die proses om in die huidige boekjaar twee nuwe dubbel-as-vulliskompakteerders vir Breedevallei se vloot teen ’n koste van R4,5 miljoen elk aan te koop.
Voorsieningskanaalprosesse neem tyd, en die tender moet deur ’n tenderspesifikasiekomitee opgestel word, waarna ’n voorgeskrewe advertensieperiode vir tenders is, waarna al die tenders wat ingekom het, deur ’n tenderevalueringskomitee evalueer moet word, waarna daar ’n voorgeskrewe appèltydperk is. Indien daar enige appèlle inkom, neem dit ook tyd om af te handel.
Die punt is dat daar in die huidige boekjaar nog uitkoms vir Breedevallei se vullisverwyderingsuitdagings is. Sodra al die vakatures in die menslike hulpbronafdeling gevul is; en sodra Breedevallei se nuwe vulliskompakteerders kom, sal Breedevallei se vullisverwyderingsdiens weer ten volle funksioneer soos wat dit moet.
Ons wil die inwoners bedank vir al hul geduld met die vullisverwyderingsuitdagings.
Wees gerus in die wete dat die probleem al grootliks gepak is met die herstel van Breedevallei se vulliskompakteerders en die beplanning vir die aankoop van die nuwe vulliskompakteerders.
. Breedevallei se inwoners kan die 24-uur-BVM-inbelsentrum se nommer by 0860 121212 skakel indien hulle ’n herwinningsak benodig.





