Breedevallei kry ‘n derde nuwe vragmotor vir vullisverwydering

Vragmtoro doen vullisverwydering
Die Breedevallei-munisipaliteit se eerste nuwe vragmotor wat vullis verwyder, is in Januarie in gebruik geneem. ‘n Derde een word binnekort bestel. Foto: Facebook/ Breedevallei Munisipaliteit

Die Breedevallei-munisipaliteit het aan die begin van die boekjaar twee nuwe vragmotors vir vullisverwydering gekoop sodat die taak meer doeltreffend kan geskied.

Die eerste vragmotor is reeds sedert Januarie fluks aan die werk, maar ‘n oponthoud het ontstaan voordat die tweede vragmotor in gebruik geneem kan word.

Die tweede vragmotor is volgens ‘n verklaring deur die munisipaliteit reeds afgelewer. Gedurende die toetsfase om te kyk dat alles reg werk en wat padvaardigheidstoetse, lisensiering en die aanbring van handelsmerke insluit, is ‘n fout met die hidroliese hyser aan die een kant van die vragmotor opgespoor. Dit beteken dat die vullis te gou uitgegooi word en in die pad beland. Die vragmotor is teruggestuur na die maatskappy wat die hyser aangebring het, sodat dit so spoedig moontlik reggestel kan word.

Die afdeling vir vaste afval beplan om in die nuwe boekjaar op 1 Julie 2025 ‘n derde nuwe vragmotor aan te skaf. Die nuwe vragmotors vir vullisverwydering en -kompaktering, sal die afdeling meer doeltreffend maak en verligting vir inwoners bring.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article