Die stormweer en swaar reënval van die afgelope week het gesorg vir chaos en grootskaalse verwoesting in die Breedevallei, veral vir die gemeenskap van De Doorns.
Die eerste storm wat uitgebreek het Sondagmiddag 11 Desember, het in ’n kort tydperk gesorg vir massas reën wat sekere strate van Worcester soos riviere laat lyk het. Enkele ure later was die water reeds deur die stormwatersisteem van die dorp en die Hexrivier het hewig begin vloei na die donderstorm.
Die storm wat egter Maandag 12 Desember oor die Breedevallei uitgesak het het vir meer skade gesorg.
Strate in Rawsonville, Worcester en veral De Doorns het weereens oorstroom en besighede en huise moes spook-en-spartel om water buite te hou en skade binne geboue te beperk.
In De Doorns was dit egter moeilik en besighede het omtrent danksy die massas water, tot in die middernagtelike ure water probeer opdroog. Slaghuise, restaurante, supermarkte en allerlei winkels het derduisende rande se skade gely na sowat 70 mm se reën in minder as twee ure neergesak het.
Die vorige dag het die De Doorns omgewing sowat 32 mm aangeteken. Worcester en ander dele van die Breedevallei het tydens die twee dae se storms ook tussen 55 en 75mm aangeteken.
Voetgangers het in die nat toestande hul weg probeer ruim na veiligheid, motoriste het probeer om veilig by hul huise en gesinne uit te kom en besigheidseienaars het gered wat daar te redde was.
Onderburgemeester Juben von Willingh, ’n inwoner van De Doorns het aan Standard gesê dat hy, talle wetstoepassers en vrywilligers bykans heelmiddag en aand kniediep in die water was om inwoners by te staan.
“Ek woon al 40 jaar hier en het nog nooit so iets beleef nie. My voete is gaar. Ons is dankbaar vir die reën, maar ek bid dat daar nie weer so ’n storm sal toesak nie. Hier is taamlike skade. Skade aan infrastruktuur veral. Huise, besighede, paaie en selfs dele van die N1 is so erg beskadig, dit sal ordentlike herstelwerk kos,” verduidelik von Willingh aan Standard.
Hy meen egter dat die landbougemeenskap veral geraak is deur hierdie stormreën.
“Diegene wat vroeë druiwe plant het sowat ’n geskatte 30% skade aan hul wingerde gekry. Die volle effek sal eers oor sowat twee weke gemeet kan word. Daar is sitrusboorde wat verspoel het en ons boere hier gaan reeds gebuk onder verskeie uitdagings. Voor hierdie storm was reeds 26 plase hierrond in die knyp. Dit beteken dat daar groot finansiële uitdagings voorlê en gesinne sal wees wie se inkomste erg geraak gaan word.”
Von Willingh sê hy is egter dankbaar dat daar geen lewensverlies tot dusver aangemeld is nie en dat hy vertrou in ’n kommunikasiesisteem wat werk.
“Almal weet wat om te doen en ons kon vroegtydig waarskuwings uitreik en sisteme in plek kry, maar die hoeveelheid reënval het ons almal verbaas. Niemand was gereed vir dit nie.”
’n Plaaslike boer in die omgewing wat op voorwaarde van anonimiteit met Standard gepraat het sê dat ’n deel van sy oes totaal-en-al verwoes is.
“Ek weet nie waar om eers te begin nie. Dit gaan reeds swaar en nou moet ek vir van my werkers verduidelik hoekom ons nie hierdie jaar soveel gaan oes nie en waarom hulle nie inkomste gaan verdien op geld waarop hul staatgemaak het nie.”
Standard het in die dorp gaan rondry en by inwoners in verskeie gemeenskappe gaan aanklop om kommentaar.
Sara Pretoors, ’n inwoner van Roodewal vertel dat water by die woonstelle vreeslik opgedam het en in die kamp-area net agter riviere en modderplasse veroorsaak het.
Piet Makker van Riverview verduidelik dat dieselfde tendens soos in Roodewal ter voorskyn gekom het by hulle en dat sekere inwoners met emmers nog water uit hul wonings moes verwyder.
Adjudant Offisier Vathiswa Jacobs van die Worcester-polisie verduidelik dat hulle nou saamwerk met raadslede om weerloses by te staan. Na ’n storm wat in Februarie vanjaar ook die Breedevallei geteister het, was ’n groot bekommernis die area van Zwelethemba.
“Ek het sopas met die raadslid gesels en alles is onder beheer. Die situasie word bestuur en dit blyk nie of te groot skade al aangemeld is nie.”
Beide Jacobs en Von Willingh stel egter dat inwoners wat geraak is deur hierdie storms moet kontak maak met hul raadslede.
Bernard Broodryk, ’n besigheidseienaar van Worcester vertel aan Standard dat hy dankbaar is vir die munisipaliteit se bystand gedurende die storm.
“In Februarie was hulle beslis nie gereed vir die storm nie en dit was nag. Paaie was ongangbaar en die water wou net nie deur die stormwaterstelsel vloei nie. Ek moet vir hulle ’n pluimpie gee dat daar wel in sekere areas aandag gee is aan hierdie probleem en water vinniger dreineer het. Wetstoepassers was ook op plekke in die dorp – gereed om bystand te lewer.”
Talle inwoners het op Standard se Facebookblad hul ervaring gedeel deur videogrepe en foto’s te deel.





