Die Breedevallei-munisipaliteit pronk breëbors nadat die uitvoerende burgemeester, Antoinette Steyn, met ‘n Nedbank Oliver-bemagtigingstoekenning op ‘n glansgeleentheid in die Sandton-konferensiesentrum in Johannesburg weggestap het.
Steyn is met die Suid-Afrikaanse plaaslike owerheidsvereniging (Salga) se toekenning vir vroue wat munisipale leierskapsuitnemendheid toon, vereer.
Dié toekenning vier vroulike munisipale leiers wat uitnemendheid in bestuur toon, veral in toonaangewende munisipaliteite wat skoon oudits behaal het.
“Die burgemeester Antoinette Steyn het deur dapper besluitneming en ‘n mensgerigte omgee-leierskapsbenadering ‘n sleutelrol in die transformasie van die Breedevallei-munisipaliteit tot ‘n meer inklusiewe en verantwoordbare instelling vervul. Hierdie merkwaardige prestasie dui nie net op haar persoonlike sukses nie, maar ook op die bemagtiging van gemeenskappe reg oor die gebied en die bevordering van vroue tot leierskap, soos blyk uit die samestelling van haar burgemeesterskomitee,” sê die raadslid dr. Julian Kritzinger.
Steyn het in ‘n video-boodskap aan die gemeenskap eer aan haar bestuurspan betoon.
“Dis vir my ‘n wonderlike voorreg om aan my munisipale bestuurder en die direkteure baie dankie te sê. Dis ‘n wonderlike voorreg vir ons as die Breedevallei-span om te kan sê ons is trots om u, die inwoners, trots te kan maak; om te kan weet hierdie munisipaliteit is in goeie hande en ons sien na u belange om.
“Sonder die direkteure is ek niks. Hulle sal opstaan vir hierdie gemeenskap. My sukses is hul sukses; ons sukses is u sukses,” sê Steyn.





