Die polisie in Rawsonville moet DNS-toetse laat doen om twee van die drie slagoffers wat Sondagoggend in ’n brand in Rawsonville omgekom het, uit te ken.

Die polisie het Maandag (16 Mei) bevestig die mense het Sondagoggend in ’n brand omgekom.

Volgens lt.kol. Gounum Munsamy het drie slagoffers in die brand beswyk. Munsamy sê die brand is aangemeld en ’n informele woning het afgebrand.

“Een slagoffer is positief geïdentifiseer en twee slagoffers se identiteit moet nog deur DNS-bewyse bevestig word. Die name van die oorledenes kan nie in hierdie stadium bekend gemaak word nie aangesien hierdie saak nog ondersoek word,” sê sy.

Die oorsaak van die brand moet nog vasgestel word hangende ’n ondersoek.

Munsamy sê in hierdie stadium is die ondersoek nog aan die gang.

Medelye het Maandagoggend op Facebook vir een van die slagoffers van die brand ingestroom.

Volgens JP Myburg, kommunikasiebeampte van die Breedevallei-munisipaliteit (BVM), is ’n brand Sondag 15 Mei in die vroeë oggendure – om 03:18 – in ’n informele nedersetting in Rawsonville in De Novastraat aangemeld.

Myburg sê die munisipaliteit se brandweer het dadelik op die voorval gereageer en die eerste voertuig het omstreeks 03:34 opgedaag.

“Hulle het gesukkel om toegang tot die gebied, wat naby die rivier was, te verkry. By hul aankoms het hulle een hout-en-yster-struktuur gevind wat aan die brand was. Hulle het dadelik met brandbestryding begin en die brand suksesvol met brandslange en water geblus,” sê hy.

Myburg sê die bemanning van die brandweerwa het omstreeks 03:41 tydens die uitvoering van brandbestrydingspligte ’n liggaam ontdek wat noodlottige derdegraadse brandwonde aan die hele liggaam opgedoen het. Nog een is omstreeks 03:45 ontdek.

“Twee liggame, wat noodlottige brandwonde opgedoen het, is gevind. Altesaam drie lyke was op die toneel. Die liggame was ongeïdentifiseerde volwasse mans,” sê hy.

Hy sê in daardie stadium het brandweerpersoneel ’n onbeheerde skare om die toneel ervaar.

Volgens die BVM het die polisie omstreeks 04:16 op die toneel aangekom en is die brand omstreeks 04:30 geblus. Die toneel is toe aan die polisie oorhandig.

Volgens die BVM is die oorledenes deur nooddienspersoneel dood verklaar. Die forensiese en patologiedienste het brandpersoneel versoek om terug te keer na die voorval om die liggame af te koel voordat dit in die lykshuisvoertuig geplaas word. Hulle het toe na die toneel teruggekeer en patologiedienste bygestaan,” sê Myburg.

Hy sê die toneel is deur die polisie afgesper.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article