So het Marlon Witbooi (33) enkele dae ná die voorval gelyk. Hy het ook ’n hou op die kop weg en sy arm is op ’n paar plekke gebreek. Foto: JP Myburg


Die drie mans wat vroeër vandeesmaand in hegtenis geneem is nadat hulle na bewering twee mans van Worcester met bofbalkolwe by onderskeidelik KFC en die Engen-vulstasie in Hoogstraat aangeval het, is borgtog toegestaan.

Garth Joshua (32), Gavin Fortuin (34) en Garthen Jason (22) is elk borgtog van R1 000 toegestaan tydens ’n hofsitting verlede Donderdag (20 Oktober).

Hierdie drie was sedert hul inhegtenisneming op 2 Oktober onder korrektiewe toesig.

Marlon Witbooi (33) en Luigi Willemse (30) was saam met Witbooi se vriendin by KFC in Hoogstraat omstreeks 04:00 Sondag 2 Oktober toe drie mans hulle van oorkant die pad genader en na bewering vir geen rede nie met ’n bottel bygedam het.

Willemse het na die BP-vulstasie gevlug en Witbooi na die Engen-vulstasie.

Hier het kringtelevisiekameras die drie mans afgeneem terwyl hulle Witbooi met die kolwe aangeval en skade binne die winkel berokken het. Willemse se voertuig se windskerm is ook deur die mans verwoes.

Die polisie het die voorval destyds aan Standard bevestig en genoem dat ’n saak van poging tot moord ondersoek word.

Hulle het bygevoeg dat die motief onbekend is en die twee slagoffers het gesê hulle weet nie waarom hierdie mans hulle aangeval het nie.

Die borgtogvoorwaardes stipuleer dat die vermeende aanvallers geen kontak met die slagoffers mag hê nie en dat hulle oor ’n maand – Donderdag 24 November – weer in die hof moet verskyn aangesien die saak verder ondersoek en nog inligting ingewin moet word.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article