Twee mans is steeds geskok en getraumatiseerd nadat hulle Sondagoggend omstreeks 04:00 deur drie mans in Hoogstraat aangeval en aangerand is.
Marlon Witbooi (33) en Luigi Willemse (30) was saam met Witbooi se vriendin by KFC in Hoogstraat toe drie mans hulle van oorkant die pad benader en vir geen rede met ’n bottel bygedam het nie.
“Ons het net probeer keer. Ons weet wie een van die mans in die groep is, maar hulle het geen rede gehad om ons aan te val nie. Hulle het ons met bottels geslaan en ons moes keer vir lewe en vir dood. Hulle het weggehardloop en later teruggekom – hierdie keer met bofbalkolwe,” vertel die mans aan Standard.
Toe Witbooi en Willemse weer sien, was die mans op pad om hulle verdere leed aan te doen en hulle het elk in ’n verskillende rigting weggehardloop. Intussen het die drie mans Willemse se kar met die kolwe bygedam en ernstige skade aan veral die voorruit veroorsaak.
Willemse het na die BP-vulstasie gevlug en Witbooi na die Engen-vulstasie. Die drie aanvallers het egter besluit om Witbooi agterna te sit en hom binne die vulstasie se winkel ’n paar lelike houe toegedien.
In videomateriaal wat sedertdien soos ’n veldbrand op sosiale media versprei het, kan ’n mens sien hoe Witbooi binne die winkel na veiligheid soek. Die drie mans en een van hul vriendinne het die winkel betree, hom gekry en herhaaldelik aangeval.
Witbooi se arm is in die aanval gekraak en het hy sy hand seergemaak. Hy het ook ’n ernstige kopwond opgedoen.
Willemse het ’n lelike hou op die kop weg nadat hy aanvanklik met ’n bottel geslaan is.
Die polisie het die verdagtes binne ure met behulp van kringtelevisiekameras vasgetrek. Hulle is geïdentifiseer as Garth Joshua (32), Gavin Fortuin (34) en Garthen Jason (22).
Die drie het Woensdag (6 Oktober) in die hof verskyn. Hulle word aangehou totdat ’n formele borgtogaansoek aanstaande Donderdag (13 Oktober) aangehoor sal word.
“Ek is bly hulle is in aanhouding; ek is skoon siek oor hierdie voorval,” vertel Witbooi se ma, Belinda, aan Standard. “Hulle het geen rede gehad nie. My seun is uit die bloute aangeval, en dit vir niks nie. Mag hulle kry wat hulle toekom. Ek het vir dae lank net klere en beddegoed gewas. Dit was net bloed. Geen ma wil haar kind in só ’n situasie sien nie.”
Beide Witbooi en Willemse verduidelik dat hulle dankbaar is hulle leef nog en het nie gedink hulle sal lewendig uit die situasie kom nie.
“Ek is baie dankbaar dat ek by Engen was. As dit in die straat gebeur het, was ek dalk dood en sou geen bewyse van die aanval beskikbaar wees nie,” voeg Witbooi by.
Sy ma sê haar seun sou nie enigiets aan enigiemand kon doen wat so ’n reaksie sou uitlok nie, en sy voel die skuldiges moet swaar gestraf word as hulle skuldig bevind word.
“My kind kon dood gewees het. Niemand verdien om so behandel en mishandel te word nie.”
Standard verneem ’n veselglas-paneel by die vulstasie se kassiere-toonbank het ook in die aanval in die slag gebly. Adjudant Offisier Vatishwa Jacobs van die Worcester-polisie het aan Standard vertel dat daar ook geen motief vir die aanval was nie, maar dat ‘n saak van poging tot moord ondersoek word.




