Twee plaaslike boere verruil eersdaags die landerye vir die bokskryt in die tweede seisoen van kykNET se Moer ‘n Boer.
Die 27-jarige Daniël Müller, wat met groente buite Wolseley boer, is op die hoofkaart vir die gevegte wat op Saterdag 20 September in Pretoria plaasvind. Hy sal kragte meet teen Lucas de Kock van Nelspruit.
Danie Visser (34) boer met sitrus, wyndruiwe en ander gewasse in die Nuy-vallei buite Worcester. Hy kom in die eind-ronde teen Jaco van Niekerk van Botswana te staan.
In beide hierdie manne se geval is dit hul vroue wat die voorstel gemaak het dat hulle dit moet oorweeg om in te skryf.
“Ek en my vrou Ernia is op 12 Oktober getroud en terwyl ons op wittebrood was, het ons toevallig die eerste seisoen op televisie gesien. Sy het gesê sy dink ek sal nogal goed doen daarmee,” het Müller gesê.
“My vrou (Lauren) het voorgestel dat ek inskryf vir Moer ‘n Boer en toe ek besig was om uie te pak, het ek ‘n inskrywingsvorm vir die kompetisie raakgesien. Met Drickus du Plessis wat so naam gemaak het met gevegkuns was ek nuuskierig,” het Visser vertel.
Behalwe vir rugbywedstryde en ‘n paar kroeggevegte het hy geen ander ervaring van gevegte gehad nie.
“Ek was altyd geneig om bakleierig op die rugbyveld te wees,” het hy met sy aansteeklike lag gesê.
Müller se eerste kennismaking met veg was tydens ‘n plaasaanval toe hy op skool was. “Ek en my suster was alleen by die huis toe die inbrekers een aand in die huis ingekom het. My suster kon my waarsku en ek is by ‘n venster uit om hulp te gaan kry, toe ek my in een van die mans vasloop.”
Die kennis wat hy tydens die afrigting vir Moer ‘n Boer gekry het, laat hom meer gerus voel. “As ek ooit weer in so ‘n situasie is, sal ek myself baie beter kan verdedig. Noudat ons ‘n baba het, is dit vir my nog belangriker om my gesin te kan beskerm.”
Müller en Visser het ter voorbereiding by die Titans Mixed Martial Arts Studio in die Paarl gaan aanklop, waar hulle deur Riaan Pieterse afgerig is. As deel van die Moer ‘n Boer-program het hulle ook ‘n sessie saam met die wêreldbekende afrigter Morné Visser, mentor van UFC-kampioen Dricus du Plessis, gehad.
Visser glo dat hierdie ervaring hom meer paraat sal maak. “Ek het geleer dis lekker om fiks te wees. Dit was ‘n goeie ervaring. Ek raak ouer en glo nie dat ek hierna weer kontaksport sal doen nie.”
Müller sê dat hy gelukkig nog altyd daarvan gehou het om te oefen was redelik fiks. “Ek het nie net geleer hoe om te baklei nie, maar ook hoe om beter te verdedig. Ek raai die manne aan om vir so paar maande te gaan leer. ‘n Mens voel sommer meer gerus dat jy jou man sal kan staan.”







