Norman Evertson

BONNIEVALE – Die treurmare van Villagers Montagu, of sommer net Sesduim soos die span alombekend staan, duur voort.

Die span is verlede Saterdag deur Blue Birds Bonnievale in dié twee spanne se Grootuitdaagbeker-kragmeting op die Happy Valley-sportterrein met 34-31 uitoorlê. Dit was Sesduim, wat die tweede laaste plek met 14 ligapunte op die Breë-Langeberg-punteleer van die Grootuitdaabeker- kompetisie beklee, se vyfde nederlaag in sewe wedstryde.

Sonder om enigiets van die tuisspan se goeie sege weg te neem, kan met veiligheid gesê word dat Sesduim sy eie grootste vyand in dié kragmeting was.

Dit was ‘n wipplankstryd waartydens die telling by drie geleent- hede gelykop was (14-14, 17-17 en 24-24). Hierby het die besoekers die vasteskrums heeltemal oorheers. Maar swak oordeel en ‘n gebrek aan afronding het bygedra tot Sesduim se ondergang.

Verkies om te skrum

So byvoorbeeld het die besoekers ‘n handvol strafskoppe binne trefafstand van die doelpale van die hand gewys en eerder verkies om te skrum, ‘n vinnige tikskop te neem of om die kantlyn op te soek, wat in die meeste gevalle op niks uitgeloop het – dit terwyl hy met ‘n goeie stelskopper soos Lee van Oordt in sy geledere sit. Trouens, Van Oordt het vroeër in die wedstryd met ‘n langafstandstrafdoel van net binnekant die tuisspan se halfgebied geslaag.

Nietemin – die rustydtelling was 24-17 in Blue Birds se guns.

Blue Birds het deurentyd met lang, taktiese skoppe gebiedsvoordeel veld-op gewen en sodoende Sesduim in sy halfgebied onder druk geplaas. Verder het die tuisspan ook sy geleenthede op punte beter benut, soos die pragtige skepdoel van die skrumskakel, Taylyne Barkley.

Blue Birds het die armdruk- stryd uiteindelik 34-31 gewen.

‘n Skrale troos vir die besoekers is dat hy met twee bonuspunte van die wedstryd af wegstap – een vir vier drieë en een omdat hulle met minder as sewe punte verloor het.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article