Alles het begin toe hy op elfjarige ouderdom bloot vir die pret rugby saam met maats in Genadendal gespeel het.
Maar min het die 18-jarige Rodwin Beyers – ’n gr. 11-leerder aan die De la Batskool vir Dowes in Worcester – geweet sy liefde vir rugby en sy uitmuntende vertonings in latere jare op die veld sal rugby-kenners soos die voormalige Springbok-afrigter Peter de Villiers só beïndruk dat dit hom ’n plek sal besorg in die span wat tans aan die Internasionale Dowerugby-7’s-toernooi in Cordoba, Argentinië, deelneem.
Die toernooi het gister (5 April) afgeskop en duur tot eerskomende Sondag.
Dié jong veelsydige sportman – die oudste van drie kinders – sê sy belangstelling in rugby het ontstaan omdat hy die sport gereeld saam met sy pa op televisie gevolg het.
Rugby blyk in Rodwin se bloed te wees, want sy pa, Boon Fisher, was in sy dae ook ’n kranige rugbyspeler.
Volgens Rodwin is die Stormers sy gunsteling-rugbyspan en hul Springbok Manie Libbok sy gunsteling-rugbyspeler.
Hy sê hy bewonder Libbok omdat hy (Libbok) goeie vaardighede het.
In ligter luim sê hy sy vriende is baie opgewonde, maar ook so ’n bietjie jaloers, omdat hy in Argentinië speel en hulle nie kon saamgaan nie.
Volgens dié jong man mis hy sy familie baie – veral omdat dit sy eerste oorsese besoek is.
Kort voor sy vertrek was Rodwin lid van die span by ’n oefenkamp in Pretoria ter voorbereiding vir die toernooi in Argentinië.
Pietjie van der Westhuizen, ’n onderwyser by De la Batskool gemoeid met sport, sê Rodwin se groot deurbraak het gekom toe De Villiers en Andy Daniel, die stigterslid van scrum5rugby.com, die skool verlede jaar genader het op soek na rugbytalent.
Sy sê tydens ’n rugby-oefenkamp waarby alle dowes van Worcester en omgewing betrokke was, is ’n paar spelers geïdentifiseer.
Hierna het ’n rits taai oefenkampe gevolg, waaraan Rodwin ook deelgeneem het.
Volgens Van der Westhuizen is Rodwin vir die finale span gekies, wat op 9 Maart aangewys is.
Sy sê die skool is “super trots” op Rodwin.
Benewens rugby blink Rodwin ook in atletiek uit.
Hy was by die 2023-Wes-Kaapse LSEN-kampioenskap eerste in hoogspring en spiesgooi en het ’n tweede plek in verspring behaal.
Hy het ook in 2022 ’n bronsmedalje in verspring by die Suid-Afrikaanse LSEN-atletiek-kampioenskap gewen.
Maar dit eindig nie daar nie: Rodwin is ook sy skool se nommereen-tennisspeler. Voorts speel hy vlugbal vir die Expendables-vlugbalklub terwyl hy op sosiale vlak tafeltennis sowel as pluimbal speel.
Marlize van der Merwe, Rodwin se afrigter, sê hy is ’n belowende, jong speler en boonop die jongste in die toergroep.
Volgens haar het Rodwin baie goeie balvaardighede en spoed.
Hy kan ook gapings goed identifiseer.
Sy sê Rodwin is ingesluit as ’n senter en ’n vleuel en is ’n goeie besluitnemer op die veld.
Rodwin se ma, Debra-Lee Groenewald, sê sy is baie trots op haar seun.
Volgens haar het Rodwin haar volle ondersteuning.
Sy sê sy hoop dié geleentheid sal hom nog eendag ver bring.




