Senior burgers van die Breedevallei hoef glad nie meer afgeskeep te voel wanneer dit by bobaas-musiekvermaak kom nie. Die plaaslike musikant en seremoniemeester Ronnie Apollis, Suleiman Valley van die Worcester-Moslem-ondersteuningsgroep en raadslid Naomi Nel van die Breedevallei-munisipaliteit het besluit om koppe bymekaar te sit om deur ’n musiekfees ’n bietjie woema in senior burgers se lewe te bring – spesiaal gemik op senior burgers.
Die Golden Footsteps-musiekfees word Sondag 16 April in die Worcester-stadsaal aangebied.
Toegang is gratis en die verrigtinge begin om 15:00.
Dit is die eerste musiekfees van sy soort in Worcester wat vir senior burgers aangebied word, maar die jongspan is ook welkom.
Apollis, wat dié dag ook as een van drie seremoniemeesters gaan optree, sê die idee van ’n musiekfees vir senior burgers het gekom toe bejaardes begin kla het dat vermaak net vir die jongspan – veral oor die Pase – voorsien word. Volgens hom beloof die rits plaaslike kunstenaars wat gaan optree om senior burgers met goue oues van die boonste rakke te vermaak.
Van die kunstenaars wat gaan optree, is onder meer die Worcester-polisie se kol. Willis Smith, Hanelise Joseph, Danny Apollis, Lanzo Daames, Boetie Springveldt, Donnie Fortuin, Greg Smith en sy dogters, Neville Jones, Richard Malgas, Trudon Damens, Deon Kleynhans, Cedrick Andrews, die skoolhoof Hubert Titus en Tommy Peters. Dié talentvolle kunstenaars beloof om die gehoor op ’n nostalgiese reis te neem met musiek van onder andere Elvis Presley, Nat King Cole, Engelbert Humperdinck, die Bee Gees en The Platters.
Volgens Apollis is die idee om die Golden Footsteps-musiekfees ’n jaarlikse instelling te maak.
Streng veiligheid sal vir die duur van die fees by die stadsaal geld.
Maak seker dat jy lekker vroeg by die stadsaal opdaag om teleurstelling te voorkom. . Navrae kan gerig word aan Apollis by 083 556 8510.




