Daar is ‘n liggie in die tonnel vir motorbestuurders wat vir hul kaartlisensies wag.
Die drukker wat die bestuurderslisensies druk is herstel. Dit was die afgelope drie maande buite werking, wat landswyd ‘n agterstand van 747 748 lisensies veroorsaak het. In die Wes-Kaap was daar teen 2 Mei 108 402 lisensies wat nog gedruk moet word.
Hierdie masjien gee al lank probleme en dit veroorsaak groot oponthoude.
Volgens Collen Msibi, woordvoerder van die nasionale departement van vervoer, is die werknemers se werksure verleng om die agterstand so gou moontlik te in te haal.
Die agterstand in Gauteng is 252 745 kaarte, in KwaZulu-Natal is dit 115 020 kaarte, in Mpumalanga is dit 66 833 kaarte, in die Oos-Kaap is 55 393 kaarte agterstallig, in Noordwes is dit 39 983, in die Vrystaat is dit 33 741 en in die Noord-Kaap staan dit op 13 862 kaarte wat nog gedruk moet word.




