– Volg van bladsy 1.
“Ons het gedink met die koms van die Transhex-(behuisings-)projek gaan daar verligting in die kamp wees. As mense trek, moet hulle hul hokke afslaan,” sê Wilskut.
Volgens hom is toegangspaaie tans een van die grootste uitdagings in Bloedrivier en Askamp.
Wilskut meen daar is nie meer beheer oor die opslaan van informele strukture nie, want die Wet op Grondbesetting word nie toegepas nie.
Hy sê wat verder kommerwekkend is, is dat Bloedrivier en Askamp, wat veronderstel is om ’n “huisnood-omgewing” te wees, nou ook deels omgeskep word in ’n kommersiële sakesone.
Volgens hom word gevind dat mense van Avianpark, wat ’n probleem met die skietery daar het, hulle nou in Bloedrivier en Askamp gaan vestig.
Wilskut sê daar is Roodewal woonstel-bewoners wat hul families nooi om daar by hulle hokke te gaan opslaan en dan woon daardie betrokke mense, wat hul familie genooi het, in die boonste verdieping van die woonstel.
Hy sê die struktuur word dan opgerig in ’n ruimte waar ’n ander woonstelbewoner byvoorbeeld sy of haar motor moet parkeer, en dit lei tot ’n bakleiery.
Volgens Wilskut raak die wetteloosheid en dobbelpoele meer, want die “nuwe intrekker” bring dan nog iemand saam, wat dan nog ’n moontlike probleem is.
Hy sê toe gekyk is na hoekom die wyk onveilig is, was dit duidelik dat die “nuwe intrekkers” baie te doen het met die gewelddadigheid waarin Roodewal hom tans bevind.
“Roodewal was vir jare baie stil, maar skielik het skietery weer uitgebreek. Elke tweede week het ons ’n moord.
“Ons kom agter dat hier ’n stelselmatige infiltrering van bendes is wat nou skielik hier wil handel dryf. Daardie hokke word dan gebruik as poste.”
Volgens Wilskut gaan die instroming van nog mense na onder meer Bloedrivier en Askamp deur wyksverteenwoordigers, wat deur die gemeenskap gekies is, dopgehou word.
Hy sê families wat tans in strukture woon wat op “probleempunte” opgerig is, gaan geskuif word na plekke waar strukture wat uitverhuur word, opgerig is, asook na ruimtes waar onwettige ondernemings bedryf word.
Volgens Wilskut meen die gemeenskap die “verbod” sal help om wetteloosheid hok te slaan. Hy sê vir solank Roodewal onveilig is, sal die “verbod” bly.
Malgas sê op sy beurt hul spanne staan gereed om onmiddellik sodra dit onder hul aandag gebring word, op die verwydering van onwettige strukture te reageer.



