“Daar is soveel angs en depressie onder ons jong mense en hulle weet nie hoe om dit te hanteer nie.”
So sê die motiveringspreker Ivor Swartz wat die Worcester-jeug van 4 tot 6 September in Jeugweek in die Worcester Vallei-kerksaal gaan kom toespreek.
Swartz is oorspronklik van Grabouw. Hy woon tans in Pretoria en is by die NGK Oosterlig betrokke.
Volgens Swartz is sy storie – soos baie ander jong mense in die land se stories – deur vaderloosheid gevorm. Hy sê hy was lank onder die indruk dit is ’n bepalende faktor in sy lewe, sy toekoms en identiteit.
Volgens hom het dit daartoe gelei dat hy ’n klomp verkeerde keuses in die lewe gemaak het. Hy sê hy het in sy soeke na onder andere ’n vaderfiguur en rolmodel ’n klomp verkeerde keuses gemaak.
Swartz sê hy het gevolglik by kriminele, bende- en dwelm-aktiwiteite asook seksuele losbandigheid betrokke geraak.
Volgens hom het hy uiteindelik in die Brandvlei-gevangenis buite Worcester opgeëindig waar hy ’n groot deel van sy jeug deurgebring het.
Hy sê ná sy vrylating uit die gevangenis het hy betrokke geraak by jeug-aangeleenthede omdat hy – toe hy nog jonk was – leiding nodig gehad het, iemand wat ’n woord van wysheid en hoop in sy lewe kon spreek. Volgens hom was daar nie sulke stemme nie of daar was min van daardie soort stemme.
Hy sê hy het dus besluit om vir ander jong mense ’n stem van hoop en wysheid te wees – ’n stem dat hulle nie hoef te gaan soek na “behoort” op die verkeerde plekke nie, dat hulle geliefd is soos hulle is, dat hulle genoeg is soos hulle is, dat hul huidige omstandighede nie die bepalende faktor is van waar hulle eendag in die lewe gaan opeindig nie, maar dat hul keuses die bepalende faktor is.
Volgens Swartz wil hy met die jong mense kom gesels oor onder meer hoe om met wysheid te leef, “want ons leef in goddelose tye”.
Hy nooi die jeug om gerus die geleentheid te kom bywoon.
Die verrigtinge begin om 18:30.
Vir meer besonderhede kan Stefaans Burden by 082 564 9478 gebel word.





