So lyk Shaverne Koppies (23) se rug nadat sy met ’n mes gedreig is en toe gestamp is deur ’n vermeende bendelid.

Credit: SYSTEM

’n 23-jarige vrou is Sondag 2 Oktober deur ’n vermeende bendelid met ’n mes gedreig en beroof.

Shaverne Koppies was op pad na haar suster se huis in Roodewal toe ’n jong man haar begin agtervolg het.

“Ek het agtergekom die man loop al hoe nader. Ek het afgedraai in ’n pad waar ek gedink het ek is veilig, maar toe druk hy my teen ’n muur vas en sê net ek moet my mond hou.”

Sy het aan verskeie planne gedink om weg te hardloop, maar toe die man ’n knipmes uitruk, het sy geweet sy gaan eerder moet saamwerk.

“Hy is bekend in die Riverview-omgewing en het al baie amok gemaak. Hy was ook al in die tronk en ek het hom toe aan sy tatoe wat op sy nek na sy skouer afloop, herken. Ek het dadelik geweet hy is lid van ’n bende. Ek het hom nog nooit ontmoet nie, maar het net geweet hy is gevaarlik,” vertel sy verder.

Die man het toe dadelik haar selfoon geëis en gevra wat het sy nog. Sy het ’n hangertjie, wat onlangs gebreek het, in haar sak gehad, maar kon dit regkry om die kosbare item vir hom weg te steek nie.

“Dit was my ma se hangertjie. Sy is in 2020 aan Covid-19 oorlede en dit is een van die min dinge wat ek nog van haar het.

Ek het dit dieper in my sak gedruk, en hy het my begin bevoel en toe later op R320 kontant afgekom. Hy het my gestamp, die geld en my Samsung-selfoon gevat.”

Koppies sê sy nie ’n klag by die polisie aanhangig gemaak nie, omrede sy bang is wat die rower dalk aan haar of haar gesin kan doen.

“Hulle is gevaarlik. Ek weet dit en ons leef permanent in vrees. Nooit dink jy iets sal met jou gebeur nie, en dan, op ’n dag, gebeur dit net. Dit kon seker erger gewees het, maar dit was nie lekker nie,” sê sy.

Koppies se rug het merke van hoe hardhandig hy haar hanteer en gestamp het. Sy het teen ’n skerp klip beland, wat haar gekrap het.

Die plaaslike polisie het onlangs maatreëls aangekondig in samewerking met die munisipaliteit om veiligheid in woongebiede soos Riverview te verskerp. Hulle maan ook die slagoffers van misdaad om eerder dadelik ’n klagte aan te meld.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article