Bejaarde se vier moordverdagtes verskyn Augustus in Tulbagh-hof

Karl Lauks

Steven Witbooi (29), een van vier verdagtes in die moord op die 73-jarige Karl Lauks van Tulbagh, het Maandag (23 Junie) weer vlugtig in die landdroshof in Tulbagh verskyn.

Witbooi het op Maandag 9 Junie die eerste keer in dié hof verskyn nadat hy kort ná Lauks se moord op 2 Junie in hegtenis geneem is. Sy saak is intussen by dié van nog drie verdagtes, Abriano Morris (19), Junaid Samson (24) en Ricardo Witness (29), gevoeg nadat hulle ook onlangs in verband met die moord op Lauks aangekeer.

Vroeër is berig dat Lauks se buurvrou op sy lewelose liggaam afgekom het waar hy in sy motor langs sy huis gesit het. Dit het gelyk asof hy verwurg is.

Vriende van Lauks het gesê hy is maande lank deur ‘n groep mans geteister, wat gereeld by sy huis ingebreek het – selfs wanneer hy tuis was.

Dié inbrekers het glo op ouer mense wat alleen woon, toegeslaan.

Lauks is ‘n Britse burger wat nie familie in Suid-Afrika het nie. Hy woon reeds jare lank in Tulbagh, waar hy ‘n geliefde lid van die gemeenskap was.

Die verdagtes verskyn op Donderdag 14 Augustus weer in die landdroshof in Tulbagh.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article