Só lyk die “Baby Saver” wat in Grabouw gebruik word. Só ’n bababoks gaan nou uiteindelik ook in Worcester by die NG Moederkerk se pastorie aangebring word.

Credit: SYSTEM

Worcester gaan uiteindelik ’n “bababoks” kry.

’n Groep mense van Worcester is, net soos die res van die dorp, keelvol vir al die babalykies wat in die laaste ruk hier gevind is.

Nadat die lyk van nog ’n baba verlede week gekry is het, het dié groep inwoners besluit om navraag te doen oor hoe om te werk te gaan om ’n sogenaamde “Baby Saver” – ’n bababoks – in Worcester in te rig.

Baby Saver SA is ’n geregistreerde organisasie sonder winsoogmerk.

’n “Baby Saver” is ’n boks wat gewoonlik in ’n muur ingebou word. Mammas wat voel hulle kan nie langer na hul babas omsien nie, kan hul baba in hierdie boks sit.

Nadat die deur van die boks aan die buitekant toegemaak is, gaan ’n alarm af wat die relevante dienste dadelik in kennis stel. Die baba word dan uitgehaal en deur nooddienswerkers ondersoek voordat die ander belanghebbendes intree.

By ’n vergadering wat Maandag gehou is, is bevestig die bababoks sal in die omheining van die NG Moederkerk se pastorie geplaas word.

Monique Snyman van Intégro, wat na die Baby Saver-organisasie uitgereik het, sê die gesprek rondom hierdie inisiatief het verlede week in hul kantoor begin.

“Ons kantoor is naby waar die baba gevind is. Ons kon die toneel sien,” verduidelik sy.

Sy het toe haar kollega later die aand ’n boodskap gestuur om te vra of hulle nie iets kan doen nie.

“Sy het my in die middel van die nag ’n boodskap gestuur en sonder om twee keer te dink, het ek haar gesê om oproepe te begin maak,” verduidelik André Viljoen, ook van Intégro.

Terwyl Snyman haar navorsing gedoen het, is sy in kennis gestel dat nog ’n vrou van Worcester ook navorsing doen. Sy en Susan van der Merwe het toe met mekaar in verbinding getree.

Van Der Merwe en haar man, Carel, het onder mekaar besluit om hierdie inisiatief ook self aan te pak.

“Ons het ’n roeping daarin gehoor – dat ons, ons gemeenskap die Here só moet dien,” het Carel gesê.

Sy vrou is van mening dat iemand iets omtrent hierdie probleem moet doen.

“En hoekom kan daai iemand nie ons wees wat iets doen nie, in plaas van net wag vir iemand anders.”

Die groep, tesame met verskeie ander rolspelers en belanghebbendes, wil die boks so gou as moontlik aan bring en die inisiatief begin toepas.

Standard het Sharna Fernandez, die Wes-Kaapse provinsiale minister van maatskaplike ontwikkeling, gevra wat die departement se siening oor Baby Saver-bokse is.

“Ons verstaan die omstandighede, wat daartoe lei dat ma’s hul babas weggooi, kan dikwels kompleks wees, maar dit is onwettig. Die idee rakende ‘Baby Savers’ sal kinderverlating en die weggooi van babas tot ’n groot mate wettig maak of aanhits, want die idee is gegrond op die gebruik van ‘veiligheidsbokse’ waarin ’n ma haar kind kan sit nadat sy geboorte gegee het,” het Joushua Chigome, Fernandez se woordvoerder, gesê.

Die departement doen ’n beroep op alle verwagtende ma’s wat nie na hul kinders kan omsien nie, om professionele hulp te vra.

“Mammas kan by enige kliniek om hulp vra, of hul naaste departement van maatskaplike ontwikkeling (DSD) se plaaslike kantoor of ’n kind- georiënteerde organisasie sonder winsbejag (’n NPO) nader om met ’n maatskaplike werker te praat wat moontlik kan help met inligting oor watter opsies beskikbaar is en geskik sal wees vir die individu se omstandighede.”

Volgens Chigome is die wetlike roete volgens die Kinderwet dat ’n gekwalifiseerde amptenaar om bystand genader moet word.

“Indien ’n ouer nie vir ’n kind kan sorg nie of die baba as ongewens beskou, moet hulle ’n gekwalifiseerde professionele persoon nader om hulle by te staan en toe te sien dat die kind in pleegsorg geplaas word of dat die kind geregistreer word vir aanneming. Die baba kan ook by ’n familielid geplaas word eerder as om die baba ‘weg te gooi’ of agter te laat.”

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article