Die toondoofheid waarmee die Wes-Kaapse departement van maatskaplike ontwikkeling op die gebruik van ’n Baby Saver reageer (lees die berig op bl. 4), laat ’n mens net besef hoe ver amptenare soms van die werklikheid op grondvlak verwyder is.
Bid jou dit aan: Die departement sê om ’n baba in ’n bababoks te sit, is onwettig en kan as kinderverwaarlosing gesien word. Kom weer? Sou die departement verkies dat ons dan maar aangaan soos dit tans aangaan met ’n baba wat nou amper weekliks soos vullis weggegooi of vermoor word? Dié wat oorleef, kan jy op die vingers van een hand tel.
En wat presies het die departement die afgelope tyd gedoen, of selfs net gesê, om die voor-die-hand-liggende krisis in Worcester die hoof te bied? Ons kan ons amper nie self hoor dink oor die doodse stilte wat heers van hul kant af nie.
Deur ’n paar keer te herhaal dat mammas asseblief tog net hul kinders by die welsyn moet gaan afgee, of om hulp by die welsyn moet gaan aanklop, is naïef, om die minste te sê.
’n Desperate mamma, met geen vooruitsigte nie en wat voel sy het geen uitkoms nie, gaan gewis nié, net omdat die departement so sê, anders optree nie. Babas gaan nog weekliks weggegooi word. Nou het hulle ’n kans op lewe.


