Ná meer as twee jaar het die bababoks, of baby saver, in Kerkstraat verlede week sy eerste baba ontvang.
Die projek is in 2022 begin deur ’n groep inwoners van verskeie oorde gedurende ’n tyd wanneer daar ’n groot toename was in die hoeveelheid babas wat in slote, dromme en toilette weggegooi is.
Die bababoks, oftewel die Moses-mandjie- Baby Rescue, het egter ’n hele paar vals alarms gehad.
Wanneer die boks se deur oopgemaak word, gaan ’n alarm af om alle rolspelers in kennis te stel dat ’n baba in die boks geplaas is. Die nodige partye word dan geaktiveer.
“Ná meer as twee jaar van pizza-bokse, klippe en skenkings in ons Baby saver, het ’n ma, wat in groot nood was, verlede week haar babaseuntjie aan die sorg van die Moses-Mandjie- Baby Rescue toevertrou. Ons het hom Adam genoem. Adam is met die ondersteuning van Priority Care, die Suid-Afrikaanse Polisiediens en ds. Carel en Susan van der Merwe uit die baby saver gehaal,” verduidelik Monique Snyman, ’n dryfkrag agter die projek.
Die babaseuntjie het ’n mediese ondersoek ondergaan kort nadat hy gevind is om seker te maak hy is gesond.
“Ná ’n reis na die plaaslike hospitaal waar bevind is hy is in goeie gesondheid, is hy aan die departement van gemeenskapsontwikkeling oorgegee, wat sy plasing na ’n aanneem- of pleegfamilie sal hanteer,” vertel sy.
Sy verduidelik ook dat die baba skoon en netjies geklee was en saam met hom het hulle ook ’n pak doeke in die bababoks gekry.
“Ek wil hierdie tyd neem om te vra dat niemand die ma veroordeel vir haar optrede nie, maar eerder die groot opoffering wat sy gemaak het, in ag moet neem. Dit kan daartoe lei dat Adam ’n lewe kan hê wat sy gevrees het sy hom nie kan gee nie. Dankie aan al die betrokke partye vir hul volgehoue ondersteuning.”
Snyman sê die span het almal gemengde gevoelens ervaar.
“Ons is ook verheug dat die mamma die keuse gemaak het om hom aan ons te besorg met die wete dat sy dit uit liefde gedoen het.”
Die bababoks is reg oorkant die kerkplein, in die heining van die NG Moedergemeente se pastorie. . Vroue wat hulp met hul babas nodig het, kan die Bababoks-projek by 083 893 3682 kontak.




