Ná 53 jaar in die vermaaklikheidsbedryf is die teater-, televisie- en rolprentlegende Fahruq Valley-Omar (81), ‘n boorling van Worcester, met die Enduring Legacy Award vereer.
Valley-Omar het die toekenning verlede Woensdag (9 September) tydens ‘n glansgeleentheid by die Kunstekaap in Kaapstad in ontvangs geneem.
Die toekenning vereer individue vir ‘n leeftyd se uitstekende bydrae tot die kunste, kultuur, taal, erfgoed en media in die provinsie.
Dit word toegeken deur die Wes-Kaapse departement van sport, kuns en kultuur.
Fahruq vertel aan Standard Breederivier Gazette: “In my geval is dit ‘n erkenning van my jarelange betrokkenheid by teater, televisie en rolprente. Dit het my 53 jaar geneem om hierdie erkenning te kry.”
Hy sê alhoewel die toekenning vir hom baie beteken, hy baie dankbaar is daarvoor en trots voel daarop, bly die grootste tevredenheid die applous wat hy uit die gehoor kry.
‘Teater is nie vir jou nie’
Volgens Fahruq het hy dit “deur die apartheidsjare gemaak” .
In 1968 het hy vir ‘n onderwysdiploma in drama aan die Universiteit van Kaapstad geregistreer.
“Ek was destyds die enigste bruin, swart persoon in die klas. Wat my destyds baie ontstel het, was dat daar van die begin af pogings aangewend was waar daar vir my gesê was: ‘Kyk, die teater is nie vir jou nie’. Maar ek het deurgedruk.”
Van 1970 tot 1975 het Fahruq onderwys in spraak en drama by die Battiswood-onderwysersopleidingskollege in Wynberg en die Wesley-onderwysers- opleidingskollege gegee.
“Ek moes noodgedwonge onderwys gaan gee omdat ek nie kon werk kry as akteur nie.
“Al die teaters was gesluit vir anderskleuriges en dit [die onderwys] was die enigste manier om geld te verdien,” vertel Valley-Omar.
“Ek was onder meer vir 18 jaar dosent in spraak- en drama by die Bellville Onderwyskollege. In die 18 jaar het ek sowat 14 verhoogproduksies op die planke gebring daar.”
Volgens Fahruq het die teatergogga hom gebyt toe hy nog op laerskool was. In gr.3 (Standerd 1, Voorbereidingskool) en later by die NGK Oefenskool het hy in verskeie operettes opgetree.
Vandag spog hy met ‘n indrukwekkende Curriculum Vitae en het waardevolle advies vir jong, opkomende akteurs.
“Kyk, die deur was toe vir my. Die deur is oop vir julle. Stap deur en maak plek vir ander om agterna te kom.”
Rolle op die verhoog, kassie en silwerskerm
As akteur het hy opgetree in toneelstukke soos The Royal Hunt of the Sun (1969); Skyf (1984 en 1998); The Boys Next Door (1986); Fiela se Kind (1986); Die Asjaspassie (1987), District Six – The Musical (1988); Just Like Home (as Gupta, 1990); Fiela’s Child – The Musical (1999), Salaam Stories (2004); Die Verminktes, Antjie Somers, Hamlet, A Midsummer Night’s Dream (Maynardville), As You Like It (Maynardville, 1999); Antjie Somers (2000).
As regisseur sluit sy produksies in Die Verminktes, Macbeth, Oklahoma!; Bugsy Malone (The Eoan Group, Joseph Stone-teater), Dialogue With a Dying Man.
Filmrolle sluit in optredes in Mandela and De Klerk; 10 000 BC, Raised by Wolves; Labyrinth en ‘n groot aantal ander internasionale rolprente en televisiereekse.
Plaaslike film- en televisierolle sluit in produksies soos onder meer Die Allemans (1991); Cape of Good Hope (2004); A Boy Called Twist (2004); Geraldina 2 (2007); Jamillah and Aladdin (2015); Die Spreeus (2019); Bhai’s Café (2019) en The Flood (2025).




