Die atletiek-afrigters (van links) Emile Koopman, Chris Visagie en Kosie Koopman bespreek die verweerde atletiekbaan by die Bolandpark-stadion in Worcester. Foto: Enrico ClaassenFoto:


Die tartanbaan by die Bolandpark-stadion in Worcester is in so ’n patetiese toestand dat dit onmoontlik vir atlete is om te gebruik. Die baan in sy huidige vorm hou boonop ’n veiligheidsrisiko vir atlete in.

’n Paar atletiek-reuse van Worcester het die afgelope week behoorlik gal gebraak oor onder meer die toestand van die baan, die gebrek aan doeltreffende toegangsbeheer tot die stadion en ander veiligheidskwessies.

Hulle het ook hul ontevredenheid namens die atletiekfamilie uitgespreek oor ’n voorval op 30 Oktober, toe tydens die bekendstelling van die Veiliger Feestyd-veldtog “aggressief” op die tartanbaan by Bolandpark-stadion bestuur is.

Chris Visagie, ’n hoërskool-onderwyser en atletiek-afrigter, sê hul grootste bekommernis destyds met die oprigting van die tartanbaan was dat daar nie werklik kontrole gehou word met betrekking tot wie daar mag oefen en hoe die baan onderhou word nie.

“Die baan het oor die jare verweer. Dit moes al ten minste twee keer opgeknap gewees het. Niemandsien na die baan om nie. Almal kom oefen net daar. Daar is mos bepaalde reëls in terme van wat op die baan gedoen en nie gedoen mag word nie,” sê Visagie.

“Daai baan is so pap, as die son hard skyn, steek jou spykers daarin vas. Die atleet kan dan val en hom- of haarself beseer,” sê nog ’n atletiek-afrigter, Emile Koopman.

“ ’n Atleet het al geval nadat sy spikes in die baan vasgesteek het. Ek hou my hoërskool-atlete weg van daardie baan.

“Ons wil so graag die baan gebruik en ons wil hê dat die reëls wat by UWK en Stellenbosch geld, ook by Bolandpark moet geld. Ons het sulke goeie stapatlete, maar hulle kry swaar op daai baan – alles omdat daar nie beheer is nie.

“Dit is beter om op ’n grasbaan te oefen, maar dis nie ideaal nie, want die kinders moet surface training ook doen.”

Volgens Koopman moes hy Bradley Olifant van De Doorns, ’n 100 m- en 200 m-atleet, op ’n 60 m-tartanstrook by Worcester Gimnasium vir die Wêreldkampioenskap voorberei.

“Dit was moeilik, maar ek kon hom nie Bolandpark toe neem en die risiko loop dat hy ’n besering opdoen nie,” sê Koopman.

“As hierdie baan weer in ’n ordentlike toestand is, dan kan ons soos voorheen weer provinsiale en nasionale atletiekbyeenkomste hier aanbied,” sê Visagie.

“Noord-Bolandse hoërskole hou glad nie meer atletiekbyeenkomste op Bolandpark nie. Daai baan moet eerder toegemaak word.”

Hy sê die grootste probleem in Worcester is dat daar nie ’n sportbeheerraad is nie. Volgens hom moet elke munisipaliteit ingevolge wetgewing ’n sportbeheerraad hê. Hy meen daar is begrotings vir sportbeheerrade.

“Dit sou soveel beter gewees en soveel beter gewerk het as ons ’n sportbeheerraad hier gehad het wat dan tweemaandeliks of kwartaalliks vergaderings hou waar ons dié soort kwessies kon bespreek.”

Koopman sê stukkende glasstukke lê gedurig op die veld.

“My laerskoolkinders oefen kaalvoet, maar voordat hulle begin oefen, moet ek eers al die glasstukke optel.

“As ek ’n afrigter is wat sy sout werd is, gaan ek nie my kinders aan ’n septiese omgewing blootstel nie. Ek sal my kinders nie by die toilette inlaat nie, want safe guarding is my verantwoordelikheid.”

Volgens Visagie kan atletiek weer in die dorp floreer en kan verhoudings weer tussen onder meer atlete gebou word – “maar ons het nie ’n plek waar ons hulle ordentlik kan afrig nie”.

Visagie sê top-atlete kom Worcester toe om te kom oefen, maar die dorp se baan kan hulle nie akkommodeer nie.

“Hier is alles, behalwe ’n baan.”

Charles Beukes, voormalige Atletiek SA bestuurslid en Boland-president, sê dis werklik diep teleurstellend om die verweer van die sintetiese atletiekbaan op Bolandpark oor die jare te moet aanskou te midde van vertoë dat die raad ingryp.

Hy sê die betrokke atletiekbaan was die heel eerste in die Boland en was die resultaat van handevat tussen die destydse Worcester-munisipaliteit, die streekdiensteraad en Atletiek SA.

“Dis [die baan] ingewy op 16 Maart 1994, maar instandhouding en gebrekkige bestuur van dié duur fasiliteit oor 30 jaar, ten spyte van herhaalde vertoë en waarskuwings van die atletiek-familie, het ons by dié skandaligheid gebring.

“Ironies het Worcester in die Olimpiese jaar twee Olimpiese atlete opgelewer (drie saam met Wenda Theron in 2016) wat hul buiging op dié baan gemaak het en waar ander wêreld-presteerders soos Tom Petranoff, Hezekiel Sepeng, Marcel Winckler, Tshakile Nzimamde, Johan Landsma, O Neil Simpson, Graeme Schafers hul merk gelaat het,om nie te praat van die Droommyl-byeenkomste nie,” sê Beukes.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article